Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad het weer ‘n besonder goeie Desember-tydperk beleef met meer as ʼn halfmiljoen besoekers en jaar-tot-jaar-groei van drie-persent. Die Kaapstadse Internasionale Lughawe het meer as 160-duisend internasionale besoekers en 362-duisend-222 plaaslike besoekers verwelkom. Streeksvlugte het die grootste groei getoon met tien-duisend-491 passasiers, wat ʼn styging van 22,5-persent is. Kaapstad Toerisme se uitvoerende hoof, Enver Duminy, sê hierdie syfers toon die toenemende vertroue in die Moederstad as ʼn bestemming wat besoekers uit alle uithoeke lok:
# ʼn Nuwe Afrikaanse e-vervoerdiens, Wanatu, is in Centurion en Pretoria bekendgestel. Die diens wil 90 bestuurders aanstel wat Afrikaans praat. Alhoewel bestuurders Afrikaans magtig moet wees, is die diens vir almal toeganklik deur ʼn knoppie op die toepassing wat in Engels vertaal. Wanatu sê hy gaan sy bestuurders regstreeks aanstel en salarisse en aansporings aanbied om ʼn veilige diens van gehalte te verseker, veral vir kwesbare kliënte. Die platform het eienskappe soos opsporingstoestelle in elke motor, paniekknoppies en ʼn beheerkamer waar bestuurders se gedrag dopgehou word.
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê hy is onwrikbaar verbind tot die bemagtiging van die jeug en die bevordering van akademiese uitnemendheid deur sy Onderwystrust. Agtien begunstigdes van die fonds het die matriekeksamen in 2024 geslaag waarvan elf met universiteitstoelating. Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê die uitstaande prestasie van hierdie leerders is ‘n bewys die program is doeltreffend:
Die Polyolefin-verantwoordelikheidsorganisasie het intussen terug-skool-toe-geskenksakke aan meer as ses-duisend graad 1-leerders in die Wes-, die Oos-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal versprei as deel van sy MiljoenPlus-program. Elke sak het ‘n kosblik, bottel en skryfbehoeftepakket in. Woordvoerder Chantal Philander, sê skole het ook opvoedkundige pamflette ontvang wat praktiese hulpmiddels verskaf om omgewingsopvoeding in die klaskamer te ondersteun:
# En ten slotte: Sean Baker se Anora met Mikey Madison in die hoofrol het vyf benoemings ontvang vir die 25ste Vancouver Film Critics Circle-toekennings. Dit sluit in beste rolprent, draaiboek, beste regisseur, beste aktrise vir Madison, en beste ondersteunende akteur vir Yuri Borisov. The Brutalist het drie benoemings ontvang, onder meer vir Adrien Brody as beste akteur. Die Golden Globe-wenner, Zoe Saldaña, is benoem as beste ondersteunende aktrise vir haar rol in Emilia Pérez. A Complete Unknown, the Bob Dylan biopic, spog ook met drie benoemings. Die wenners word op 19 Februarie aangekondig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….