Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Instituut vir Beste Werkgewers het aan Eskom erkenning gegee as Suid-Afrika se Beste Werkgewer. Die instituut se sertifisering is gegrond op ‘n deurtastende proses, wat organisasies beoordeel volgens ses sleutel-menslike hulpbronterreine. Meer as twee-duisend-300 organisasies in 121 lande is beoordeel. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die erkenning weerspieël die uitnemende prestasie en etiese kultuur wat geleidelik gebou word:
# Premier Oscar Mabuyane en die LUR vir onderwys, Fundile Gade, het die Oos-Kaapse Lugvaartskool by 43 Lugskool in Port Alfred bekendgestel. Die program gebruik ‘n driebaan-onderwysmodel en integreer wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Dit sluit lugvaart-maritieme studies by die Hoërskool Port Alfred in. Die program word in vennootskap met kundiges in die bedryf met graad 10-leerders begin en beoog om hulle met vaardighede toe te rus. Dit word bestempel as ‘n belangrike mylpaal vir die provinsie se onderwyssektor.
# Die Kaapstadse karnaval vier vanjaar sy 15de bestaansjaar. Die aanhanger-wandelroete in Groenpunt sal skitter met musiek, dans, kuns en kultuur van plaaslike en internasionale sterre. Die geleentheid, wat in Maart plaasvind, poog om plaaslike talent te ondersteun en werkskepping te bevorder. Die karnaval gaan iets besonders wees vir inwoners sowel as toeriste. Hoogtepunte sluit in die Stormers-rugbyspan se vlot en die Brasiliaanse kunstenaar Erika Januza. Die tema vir die viering is WowZA!, wat daarop gemik is om die vreugde en eenheid van Suid-Afrika se skeppendheid te weerspieël.
# Die komediant en laatnag-gasheer Conan O’Brien word die 26ste ontvanger van die Kennedy-sentrum se Mark Twain-prys vir Amerikaanse humor. Hy sluit aan by ‘n lys vereerders, onder wie Richard Pryor, Carl Reiner, Whoopi Goldberg, Tina Fey, Eddie Murphy, Jay Leno en David Letterman. Die president van die sentrum, Deborah F Rutter, sê O’Brien is ‘n meester van skepping en herskepping, en neem altyd daardie ekstra tree in die soeke na nuwe komedie-hoogtepunte. Hy ontvang die toekenning op 23 Maart.
# En ten slotte: Van die grootste musieksterre soos Billie Eilish, Katy Perry en Stevie Nicks lei later die maand ‘n bystandkonsert genaamd FireAid by die Inuit Dome en Kia Forum in Los Angeles. Die konsert is ten bate van diegene wat getref is deur die dodelike brande in Los Angeles. Onder die ander kunstenaars wat optree is Joni Mitchell, Sting, Lady Gaga en Earth, Wind and Fire. Die organiseerders sê bydraes tot FireAid sal versprei word onder die Annenberg-stigting vir korttermynbystandpogings en langtermyn-inisiatiewe om toekomstige brandrampe te voorkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….