Goeie Nuus
BULLETIN 3 Maart
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die rolprent Death of a Whistleblower het die prys van Beste Afrika-rolprent verower op die Sesde Johannesburgse rolprentfees, wat in die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg gehou is. Die rolprent, wat deur Suid-Afrikaanse rolprentmakers vervaardig is, pak temas soos korrupsie, sedelikheid en geregtigheid, en vind aanklank by gehore. Die rolprentvervaardiger, Tshepiso Chikapa-Phiri, beklemtoon die gevare waarmee verklikkers worstel en doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om diegene wat korrupsie in die regstelsel blootlê, te beskerm.
# Die Universiteit van die Wes-Kaap het onlangs die Siyaphumelela-netwerktoekenning ontvang vir die bevordering van studente se sukses gegrond op data-inligting. Die toekenning vereer die werk van alle Suid-Afrikaanse vennote om gelykheid en student-gesentreerde hervorming te bevorder terwyl studente se suksesse in Amerika met globale insig verryk word. Siyaphumelela, wat in 2014 gestig is, is ‘n netwerk van Suid-Afrikaanse universiteite en het gegroei van vyf tot 17.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Beweeglikheid, Ricardo Mackenzie, het op die eerste George-fietsdag 60 fietse aan fietsryklubs, entrepreneurs en buurtwagte oorhandig in vennootskap met die munisipaliteit en ander belanghebbers. MacKenzie is vergesel deur die LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen. Allen sê dit is deel van die provinsiale regering se Fietsverspreidingsprojek, wat gemeenskapsveiligheidspogings en die plaaslike ekonomie ‘n hupstoot gee, terwyl dit fietse bevorder as volhoubare, bekostigbare en gesonde vervoermiddels:
# Gauteng se Departement van Gesondheid sê hy het die afgelope drie jaar goed gevorder om te verseker dat soveel mense as moontlik toegang het tot gehoorapparate. Die departement het die afgelope drie jaar tot Januarie vanjaar, gehoorapparate uitgereik aan 16-duisend-753 mense wat gekwalifiseer het. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê daar is op die oomblik 566 mense op die register, wat gehoorapparate in die nuwe boekjaar sal ontvang:
# En Vambo Technologies het ‘n deurbraak taaltoeganklikheid-platform aangekondig om te voldoen aan die taalbehoeftes van Afrika-gemeenskappe. Vambo A-I se mede-stigters, Chido Dzinotyiwei en Isheanesu Misi, sê dit sal gebruikers bemagtig om te kommunikeer, te leer en inhoud te skep in uiteenlopende Afrikatale. Dit sal ook kulturele inklusiwiteit bevorder en taalversperrings oorkom. Dzinotyiwei sê ‘Vambo’ beteken “oorsprong” of ‘begin’. Die toepassing sal mense in staat stel om weer verbind te word met hulle oorsprong deur taal, kultuur en erfenis met die gebruik van kunsmatige intelligensie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….