Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Boitumelo Media het die eerste Gemeenskapsradio-toekennings aangekondig wat op 25 April sal plaasvind. Hierdie toekennings vereer gemeenskapsradiostasies en plaaslike storievertellers wat sosiale geregtigheid en kulturele uitdrukking bevorder. Kategorieë sluit ondermeer in die beste gemeenskapsprogram en Ererol-induksies. Nominasies, met oudioprofiele en geskrewe motiverings, sluit op 28 Februarie. Stigter Motseki Mabuya beklemtoon die kritieke rol van gemeenskapsradio in die bevordering van dialoog en kulturele verbintenis.
# Kaapstad Skaak sê hy sal sy samewerking met die Universiteit van die Wes-Kaap help om skaak op die kampus te ontwikkel. Die UWK het verlede week die 2025 Kaapstadse Meesterskaakuitdaging in die Jakes Gerwel-saal aangebied. Skaakspelers van so jonk as elf jaar van die Kaapstad-omgewing het die afgelope ses dae aan die geleentheid deelgeneem. Die UWK sê dit is belangrik om bewustheid oor die spel te skep en mense aan te moedig om ‘n pot skaak te speel.
# Altesaam 20 gevangenes en 16 misdadigers op parool is ingespan om drie skole in Kaapstad skoon te maak vóór die aanvang van die akademiese jaar Woensdag. Dit sluit in die Tembaletu Special School in Gugulethu, Zimasa Primary in Langa en Thembelihle High School in Khayelitsha. Die departement van Korrektiewe Dienste se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê die program help met die rehabilitasie van gevangenes en hul latere herinskakeling in die gemeenskap.
# Al ses Suid-Afrikaanse dollar-miljardêrs het hul fortuin in 2024 vermeerder. Dit is volgens Forbes se Real-Time Billionaire-lys wat net mense insluit wie se netto waarde meer as 19-miljard-rand is. Die magnaat en Remgro-voorsitter, Johann Rupert en sy familie, en die diamant- en mynreus Nicky Oppenheimer en sy familie, is albei meer as een-miljard-rand ryker. Capitec-stigter Michiel le Roux en sakeman Christo Wiese se fortuin het verlede jaar met meer as 50-persent toegeneem. Naspers-voorsitter Koos Bekker en sakeman Patrice Motsepe is ook op die lys.
# En laastens: Lionsgate se roofriller, Den of Thieves 2: Pantera, het die naweek sy debuut in die eerste plek gemaak in Noord-Amerikaanse fliekteaters. Die film met Gerard Butler in die hoofrol, volg ‘n Los Angeles-polisiebeampte wat in Europa op die spoor is van ʼn gewese vlootsoldaat, Donnie, wat ʼn reuse-diamantrooftog beplan. Donnie word deur O’Shea Jackson Junior gespeel. Disney se Mufasa: The Lion King is in sy vierde naweek steeds tweede en die Paramount-fliek, Sonic the Hedgehog 3, is derde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….