Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Charity Begins With Me het ‘n ambisieuse teiken gestel om 40-duisend vars lekkernye in verskeie informele nedersettings uit te deel. Dis deel van sy veldtog om gesonder peuselgewoontes onder minderbevoorregte kinders te bevorder. Die stigter, Stephan Ferreira, is geraak deur berigte van kinders wat weens ongesonde peuselhappies sterf. Hy beplan om vanjaar weekliks 750 vars vrugte en groente uit te deel en uiteindelik 40-duisend te versprei om sy 40ste verjaardag te vier. Hy sê dis belangrik om veilige lekkernye wat gereed is om te eet aan kinders beskikbaar te stel.
# Die Addams Family-musiekblyspel oorrompel Kaapstad sedert die opening middel verlede maand by die Homecoming Centre. Die produksie is die verhaal van onwaarskynlike verbintenisse terwyl die donker en geheimsinnige Wednesday Addams verlief raak op ‘n seun uit ‘n gewone gesin, Lucas Beineke. Die sterbelaaide rolverdeling sluit in Samantha Peo, Tiaan Rautenbach en Yahto Kraft. Die resensies is positief, met die Daily Maverick wat dit beskryf as ‘n dosis goedvoel-heilsaamheid, terwyl Netwerk24 sê die blyspel bewys Suid-Afrika se teaterbedryf is wêreldgehalte. Die produksie duur tot die tweede Februarie.
# Universal se aanpassing van die Broadway-musiekblyspel, Wicked, is genomineer vir vyf Screen Actors Guild-toekennings. Die nominasies sluit in Beste Aktrise vir Cynthia Erivo, Ondersteunende Aktrise vir Ariana Grande, en Uitstaande Uitbeelding deur ‘n Rolverdeling in ‘n Rolprent. Bob Dylan se biofliek A Complete Unknown het vier nominasies gekry, insluitend een vir die hoofrolspeler Timothée Chalamet. FX/Hulu se Shogun het die meeste TV-nominasies gekry met vyf, terwyl The Bear vier het. Die SAG-toekennings word op 23 Februarie regstreeks op Netflix uitgesaai.
# Singapoer het steeds die wêreld se sterkste paspoort. Dit is volgens die 2025 Henley-paspoortindeks, wat paspoorte beoordeel volgens die aantal bestemmings wat mense kan bereik sonder ‘n visum. Singapoer se paspoort bied visum-vrye toegang tot 195 uit 227 wêreldbestemmings. Japan is tweede op die ranglys, met ‘n oop deur na 193 bestemmings. Frankryk, Duitsland, Italië, Spanje, Finland en Suid-Korea is gesamentlik derde met toegang tot 192 bestemmings sonder ‘n visum.
# En laastens: Die Amerikaanse president Joe Biden het sy eerste agterkleinkind verwelkom nadat sy oudste kleindogter Woensdag in Kalifornië geboorte geskenk het aan ‘n baba. Die 31-jarige Naomi Biden Neal en haar man, Peter Neal, het hulle eerste kind verwelkom – ‘n seun met die naam William Brannon Neal die Vierde. Die nuweling deel ‘n naam met Neal se broer, wat in 2009 in ‘n ongeluk dood is. Biden is die eerste sittende president wat ‘n oupagrootjie word terwyl hy in die pos dien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….