Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Kindness Like Confetti is tevrede met sy vakansieprojekte in Johannesburg. Die organisasie het handgemaakte artikels vir vroeggebore babas by die Thelle Mogoerane-hospitaal afgelewer, deur Project Uplift onderklere aan vroue geskenk en feestydvreugde versprei deur Kersgeskenke uit te deel in Cosmo City en by die Eeufees-ouetehuis. Volgens die organisasie sal die pogings vanjaar voortgaan en hulle toewyding om welwillendheid te versprei en gemeenskappe te ondersteun, bevorder.
# ‘n Span van die Universiteit van die Witwatersrand het 200-duisend-rand gewen in die finale ronde van die eerste Nasionale Innoveringsuitdaging. Die span, EcoCane Innovations, het erkenning gekry vir hulle projek wat gemik is op die vermindering van plastiekbesoedeling deur die produksie van biodegradeerbare bioplastiek uit suikerriet. Die span sê hulle bioplastiek bied ‘n biodegradeerbare en hernubare oplossing.
# Eswatini en die Mpumalanga-provinsie het CNN Travel se lys van 25 bestemmings om vanjaar te besoek, gehaal. Mpumalanga se Blyderivier-canyon, die derde grootste in die wêreld, word as ‘n hoogtepunt aanbeveel. Eswatini se Sibebe-rots, die wêreld se grootste ontblote graniet-plutoon, bied ʼn uitdagende maar bevredigende uitstappie. Ander plekke wat die lys gehaal het, sluit in Almaty in Kasakstan, Chemnitz in Duitsland en Gdansk in Pole.
# Die Universiteit van KwaZulu-Natal se Bews-herbarium in Pietermaritzburg het onlangs die afhandeling gevier van ʼn fotografieproses wat vier maande geduur het. Dit verbeter dié voorste herbarium se beskikbaarheid om belangrike navorsing oor Suid-Afrika se flora te bevorder. Die proses was onder leiding van die Natural Science Collections Facility. Die universiteit sê die Bews-herbarium is in 1910 gestig en huisves tans net minder as ʼn kwartmiljoen plantspesies wat blomplante, saadplante, varings en seegras insluit en dit is alles nou gefotografeer.
# ‘n Stapper wat vir byna twee weke in Nieu-Suid-Wallis, Australië, vermis was, is lewend gevind nadat hy oorleef het op water van stroompies, bessies en twee muesli-stafies. Die mediese student, Hadi Nazari, het op 26 Desember vermis geraak nadat hy tydens ‘n staptog saam met sy vriende in die Kosciuszko Nasionale Park in die Snowy Mountains alleen foto’s wou neem. Honderde mense was deel van soekgeselskappe om die 23-jarige op te spoor. Hy was springlewendig, op en wakker, kon praat en het geen noemenswaardige beserings nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….