Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Desember
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse popsensasie, Tyla, het uitgeblink op 2024 se Billboard-musiektoekennings en is vereer vir beste Afrobeats-liedjie en Afrobeats-kunstenaar. Sy is agt keer in ses kategorieë benoem, insluitend Top R-en-B-kunstenaar en Top R-en-B vroulike kunstenaar. Tyla, wat bekend is vir amapiano-musiek, het ook toekennings verower op die SAMA’s, Grammys, BET en MTV EMA’s. Sy het haar aanhangers bedank vir hul ondersteuning:
# Die benoemings vir die 12de Afrika Opkomende Rolprentmaker-toekennings is bekendgemaak en Baby Cele is benoem as beste vroulike byspeler vir Ukhumbuzile. Die toekennings, wat opkomende Suid-Afrikaanse talent vereer, word môre in Durban uitgedeel. Die stigter, Andile Buwa, sê die klem val op verbeterde standaarde in die bedryf. Die geleentheid is die vertoonvenster vir gehalte rolprente en die bevordering van plaaslike stories, met die tema, Ons is Konings en Koninginne en laat Ubuntu herleef.
# Die musiekblyspel Addams Family open môre in die Homecoming-sentrum, voorheen The Fugard, in Kaapstad. Die produksie handel oor onwaarskynlike verbintenisse. Die donker, geheimsinnige Wednesday Addams raak verlief op die seun van ‘n gewone gesin, Lucas Beineke. Wanneer die twee se wêrelde bots, word die temas van liefde, kwesbaarheid en belangrikheid van gesinsbande ontgin. Die regisseur is Garth Tavares en die hoofrolspelers Samantha Peo en Tiaan Rautenbach.
# Die Johnson-Rose-kankerstigting maak ‘n verskil in die lewe van kankerpasiënte sonder mediese fondse deur ‘n program van maandelikse skenkings van 100-rand. Dit bied noodsaaklike steun, insluitend die befondsing van behandeling, vervoer en bykomstige dienste. Die stigting sê dié kritieke sorg is veral tydens die feesseisoen noodsaaklik wanneer sommige gesinne die angs van kankerdiagnoses moet verwerk. Die stigting sê hy wil ‘n verskil maak en die lewe van pasiënte verander deur maandelikse skenkings.
# En ten slotte: Die 18-jarige Gukesh Dommaraju het geskiedenis gemaak toe hy die jongste klassieke skaak-wêreldkampioen ooit geword het. Die Indiese tiener het Ding Liren van China in die eindronde in Singapoer geklop. Hy neem die titel van jongste skaakkampioen oor by die Rus Gary Kasparov, wat 22 was toe hy byna vier dekades gelede die jongste kampioen geword het. Gukesh sê sy oorwinning is die beste oomblik van sy lewe:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….