Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Desember
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Nasionale Rolprent- en Video-stigting sê die geweldige talent en skeppendheid van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf is ongeëwenaard. Die top 11 benoemings vir die beste internasionale rolprent op die Oscars word Dinsdag aangekondig en die Suid-Afrikaanse fliek, Old Righteous Blues, staan ook ’n kans. Dit handel oor ’n jong man se reis om persoonlike beperkings te oorkom en bo die spoke van die verlede uit te styg om ’n verdeelde gemeenskap te verenig. Die kortlys van vyf flieks in die kategorie word op 17 Januarie bekendgemaak.
# Gebruikers van DStv Stream het in 2024 meer as 430 miljoen uur gekyk, hoofsaaklik na trefferflieks, dramas en sport. Die Springbokke se oorwinning oor Skotland verlede maand was die gewildste regstreekse uitsending, Aquaman and the Lost Kingdom die gewildste fliek en Yellowstone boaan internasionale reekse. Plaaslik was My Brother’s Keeper die gunsteling onder fuifkykers. Bykomende aanbiedings op die platform het DStv Stream se aantrekkingskrag verhoog, met aanbiedings soos Cloud PVR en slimmer aanbevelings. DStv beloof in Desember nuwe reekse, 500 regstreekse sokkerwedstryde en meer eksklusiewe inhoud.
Google se Jaar se Soektogte vir 2024 onthul intussen Suid-Afrikaners se sterk belangstelling in aktuele sake, vermaak, sport en nuus oor bekende persoonlikhede. Volgens News24 was Dricus du Plessis die gewildste onder sportlui terwyl Tyla die meeste navrae oor musiek gehad het. Die Verkiesingskommissie was die gewildste nuusgebeurtenis tydens die algemene verkiesing, gevolg deur die tweepotstelsel en die Amerikaanse verkiesing. Ander gewilde onderwerpe sluit in die vermiste Joslin Smith, die dood van die akteur Mpho Sebeng, en die Afrikabeker-sokkertoernooi.
# Die Universiteit van Fort Hare se Depatement Menslike Bewegingswetenskap het saamgewerk met die Uppsala-universiteit in Swede, aan ‘n navorsingsprojek om kindergesondheid te bevorder. Dit gee aandag aan toenemende kinderwanvoeding in die Oos-Kaap. Fort Hare sê die program pak dwerggroei sowel as vetsug, met ‘n besondere fokus op die rol van ‘n tekort aan mikrovoedingstowwe wat ongeveer 33-persent van kinders in die streek raak. Altesaam 324 kinders is sedert 2021 dood aan akute wanvoeding.
# En ten slotte: Die musieklegende, Elton John, is aangewys as Time-tydskrif se Ikoon van die Jaar. Die tydskrif sê die 77-jarige se dekades lange invloed het tot die eer bygedra. Daar word verwys na sy 57 treffers op die Amerikaanse Top 40, en sy ontwikkeling van ’n swierige verhoogkunstenaar tot ’n Broadway-komponis, Disney-liedjieskrywer en -medewerker. Hy het die afgelope 50 jaar meer as vier-duisend-500 konserte gehou en einde verlede jaar afgetree. John sê hy reken hy is op ’n manier gekies om beroemd te wees omdat hy die druk kan hanteer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….