Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Desember
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Kaapstad-stadion se hibriede gras-oppervlak het ‘n toonaangewende toekenning van die Internasionale Projekbestuursvereniging ingepalm, vir wêreldklas-vernuwing. Die projek is verlede jaar voltooi en het ‘n duursame hibriedstelsel met natuurlike en kunsgras vir die stadion gevestig. Die stadion het reeds meer as 200 geleenthede aangebied, wat plaaslike sake- en gemeenskapsbetrokkenheid verbeter. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die toekenning is ‘n groot prestasie en bewys die stadion is ‘n voorkeur-geleentheidsbestemming.
# Professor Siona O’Connell van die Universiteit van Pretoria het haar grensverskuiwende kinderboek, My Derde Ouma, bekendgestel. Die boek bring hulde aan die waardevolle bydrae van Nama-vroedvroue wie se kennis stadig aan die verdwyn is weens moderne medisyne. O’Connell sê die boek, wat ook ‘n Nama-naam het, gaan oor die 10-jarige Sonnetjie wat aan Ouma Toesie se sorg toevertrou is en eerstehands die wysheid en helende hande van ‘n tradisionele vroedvrou ervaar:
# Sowat 108 serebraal gestremde kinders in landelike gebiede gaan hierdie Kersfees die geskenk van beweeglikheid ontvang. Die Chair’ished-kinderprojek gaan rolstoele verskaf wat vir hierdie kinders vryheid en onafhanklikheid sal skenk. Die veldtog se vrygewige skenking van 52-duisend-rand dek herstelwerk, onderdele en maaltye om wanvoeding te bekamp. Kinders in KwaZulu-Natal, Limpopo, die Oos-Kaap en Mpumalanga sal by die projek baat.
# Die Amerikaanse Rolprentinstituut het sy lys van die beste tien rolprente en televisieprogramme van die jaar bekendgemaak. Aan die rolprent-kant is Universal se lokettreffer, Wicked, Netflix se Emilia Pérez, Focus Features se Conclave en die A24 Sing Sing op die lys. Aan die televisie-kant het Netflix en HBO/max oorheers. Netflix se Nobody Wants This en A Man on the Inside is op die lys, asook Hacks en True Detective: Night Country van HBO/Max. Die wenners word in Januarie vereer op die instituut se jaarlikse privaat dinee in Beverley Hills.
# En ten slotte: Die Pantone-kleur-instituut het ʼn stemmingsvolle, sagte bruin, Mokka-mousse, aangewys as sy kleur van die jaar vir 2025. Hy sê die kleur ontlok die behaaglikheid van kakao, sjokolade en koffie, wat saamsmelt met ʼn sensoriese en vertroostende gevoel van warmte. Die instituut se uitvoerende direkteur, Leatrice Eiseman, sê die kleur skep ʼn gevoel van koestering. Pantone se eerste kleur van die jaar in 1999, was hemelblou en in 2024 was dit perskedons – ʼn ligte, vrugtige skakering wat op vrede en rustigheid dui.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….