Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Desember
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Spotify South Africa sê 2024 het nie net gegaan oor wêreldtreffers nie, maar vir plaaslike musiek om uit te blink. Dit word weerspieël in die styging van 93-persent in plaaslike musiekverbruik en die gewildheid van plaaslike klanke. Dit sluit in die aansteeklike ritmes van Amapiano, tradisionele musiek en potgooie. Sithabile Kachisa van Spotify sê vrouekunstenaars het met rasse skrede vooruitgegaan op die Suid-Afrikaanse musiektoneel, met Tyla en Lwah Ndlunkulu wat boaan die trefferlys is vir aanlyn albums waarna die meeste geluister is:
# Die Stad Kaapstad maak gereed vir ‘n rekord-feestyd met hotelle wat vinnig vol word. Die metro verwag ’n toestroming van plaaslike en buitelandse toeriste as gevolg van groot geleenthede soos die Sewes-rugbytoernooi en talle konferensies. Die permitkantoor vir geleenthede verwerk tans meer as 160 aansoeke vir permitte, net vir Desember. Die metro sê hy werk saam met sy vennote om plaaslike en buitelandse toeriste te lok, besoekers se ervarings te verbeter, lugroetes uit te brei en toeriste se plesiervaart-ervarings te bevorder.
# Frankryk en Nederland se nasionale lugrederye, Air France en KLM, het ʼn ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse streeks-redery, Airlink, gesluit. Volgens die ooreenkoms het dié twee groot Europese lugrederye nou toegang tot 14 plaaslike Airlink-roetes in Suid-Afrika. Lede van Air France en KLM se Flying Blue-getrouheidsprogram sal ook myle verdien op sekere Airlink-vlugte. Air France-KLM en Airlink beplan om hul samewerking uit te brei na Afrikalande soos Angola, Botswana, Zimbabwe en Malawi.
# Parys is die vierde agtereenvolgende jaar aangewys as die wêreld se aantreklikste stad op die Top 100 Stadsbestemmings-aanwyser van die data-ontledingsmaatskappy, Euromonitor International. Dit plaas stede op ‘n ranglys met die kriteria wat insluit toerisme, volhoubaarheid, ekonomiese prestasie, gesondheid en veiligheid. Madrid is tweede op die lys, gevolg deur Tokio, Rome en Milaan vyfde. Europa oorheers die ranglys met ses stede in die top tien.
# En ten slotte: Taylor Swift se Eras Tour-boek wat slegs by Target beskikbaar is, het in die eerste twee dae 814-duisend eksemplare verkoop. Dit is die tweede meeste boeke in ‘n week sedert Bookscan in 2001 begin het om verkope te monitor. Die boek van 256 bladsye wat haar Eras Tour herdenk, bevat foto’s van die toer wat nog nooit voorheen gesien is nie saam met stories en Swift se eie herinneringe. Die voormalige Amerikaanse president, Barack Obama, se A Promised Land het 816-duisend eksemplare verkoop toe dit in 2020 uitgegee is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….