Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Desember
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# eThekwini se burgemeester, Cyril Xaba, het ‘n spesiale strand-rystoel ontvang as geskenk van die Smith-gesin, wie se seun, Reece, ʼn kwadrupleeg is wat dit geniet om in die see te wees. Die rystoel is spesiaal van stewige materiale gemaak sodat dit op sand en in die see gebruik kan word. Xaba sê die geskenk sal baie help om die strand toeganklik te maak vir gestremdes. Hy het ook onderneem om nog van hierdie rystoele aan te skaf om toeganklikheid op alle strande te verbeter.
Die Stad Kaapstad sê intussen sy jaarlikse Identikidz-program skop volgende Saterdag in Strandfontein af. Die program wil kinders veilig hou en aan hulle ouers en versorgers gerustheid gee wanneer hulle die strand besoek. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê verlede jaar het 133-duisend-730 kinders armbandjies gekry in die vyf spitsnaweke, en 302 kinders en hulle geliefdes is weer by mekaar uitgebring:
# Die Universiteit Stellenbosch se kommunikasie- en bemarkingspesialiste het 36 toekenning ingepalm op die Bemarkings-, Bevordering- en Kommunikasie-uitnemendheidstoekennings wat in Kaapstad gehou is. Dit is die meeste toekennings aan enige instelling. Vanjaar het 19 onderwysinstellings uit alle dele van die land 293 inskrywings ingedien vir uitnemendheid, bemarking, bevordering en kommunikasie. Stellenbosch spog met vyf goue-toekennings, waaronder die Plasing van SU vir die toekoms-veldtog, asook 15 silwer- en 16 bronstoekennings.
# Die direkteur van Nal’ibali, Lorato Trok, is op die Durbanse Internasionale Boekfees vereer met ‘n Leeftydprestasietoekenning. Haar aansienlike bydrae tot die bevordering van geletterdheid in Afrikatale is gevier. Nal’ibali is ‘n nasionale lees-vir-genotveldtog. Dit wil reg oor die land ‘n kultuur van lees laat ontstaan en vaslê in kinders van geboorte tot 12 jaar, deur leesinhoud in al die Suid-Afrikaanse tale te skep en aan te moedig.
# En ten slotte: Die viermalige Grammy-wenner, Ed Sheeran, gaan volgende maand in die Himalaja-koninkryk Bhoetan optree. Hy sal die eerste internasionale kunstenaar wees vir wie dié land gasheer speel. Die konsert vind op 25 Januarie plaas en is deel van die Britse sanger en liedjieskrywer se Mathematics-toer. Sheeran sal ook in Indië, China en die Midde-Ooste optree voordat hy na Europa gaan. Die Boeddhistiese koninkryk van sowat 700-duisend mense is tussen China en Indië geleë, en het in die 1970’s na die res van die wêreld begin uitreik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….