Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse pop-ster Tyla is benoem vir agt Billboard-musiektoekennings, insluitend beste vroulike R&B-kunstenaar en beste R&B-liedjie vir Water. Dis die eerste keer dat sy benoem word. Die country-sanger Zach Bryan is in 18 kategorieë benoem en Taylor Swift, die vroulike kunstenaar wat die meeste kere in die toekennings se geskiedenis bekroon is, het 16 benoemings ontvang. Ander benoemdes sluit in Drake, Billie Eilish, Teddy Swims, SZA en Shaboozey. Die toekenningsgeleentheid vind die 12de van volgende maand in Los Angeles plaas.
# Die Suid-Afrikaanse kinderster Litlhonolofatso Litlhakanyane gaan optree in die internasionale rolprent Bird Boy. Die Hollywoodster Tèa Leoni vertolk die hoofrol en die regisseur is Joel Soisson. Dit is die 13-jarige se tweede internasionale fliek na sy hoofrol in Thabo and the Rhino Case. Litlhonolofatso is veral bekend as Tebello in e.tv se Scandal.
# Disney se jongste tekenprent, die musiekblyspel Moana 2, open vandag in Amerikaanse rolprentteaters. Dit sal na verwagting binne die eerste vyf dae na vrystelling meer as 2.6-miljard-rand by kaartjiekantore verdien. Die eerste Moana het in sy eerste naweek in 2016 meer as 1.4-miljard-rand gemaak. Dwayne Johnson en Auliʻi Cravalho is in die hoofrolle en die fliek vertel die verhaal van ‘n avontuurlike Polinesiese meisie wat op ‘n waaghalsige sending oor die oseaan vertrek. Cravalho het aan USA Today gesê die fliek beteken vir haar baie:
# Die Kaapstadse passassierboot-terminaal is die vierde agtereenvolgende jaar aangewys as die beste in Afrika. Die uitvoerende bestuurder van die V&A Waterkant-mariene- en nywerheidseiendom, André Blaine, het op die Wêreld-passassiersboot-reistoekennings in Madeira, Portugal, sy trots uitgespreek oor die prestasie. Hy het die terminaal se rol uitgelig met die skep van onvergeetlike ervarings vir bootpassassiers, wat Kaapstad se aantrekkingskrag as ‘n voorste seevaartbestemming verbeter:
# En ten slotte: ʼn Kunswerk uit die 18de eeu van ʼn Spaanse jaghond word volgende week die eerste keer in 50 jaar opgeveil. The Spanish Pointer deur die Britse kunstenaar, George Stubbs, is nog net een keer aan die publiek vertoon toe dit in 1948 op die Londense National Gallery for Sport and Pastimes uitgestal is. Die afslaer Sotheby’s sê die kunswerk vertoon Stubbs se veelsydigheid en ingebore begrip van alle dier-spesies se anatomie. Die skildery sal na verwagting teen sowat 400-miljoen-rand verkoop word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….