Goeie Nuus
BULLETIN 27 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die organiseerders van die 24ste Kaapstadse Internasionale Jazz-fees sê dit gaan nog groter as ooit te vore wees met nuwe talent, formate en verhoë. Kunstenaars wat gaan optree sluit in die Britse orkes Matt Bianco, en plaaslike sterre Mandisi Dyantyi, Benjamin Jephta en Zoe Modiga. Die jazz-skouspel word op drie en vier Mei by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum gehou. Kaartjies kos 950-rand per dag.
# Die bekroonde akteur Jeremy Allen White is in onderhandelinge betrokke om die rol van Bruce Springsteen te vertolk in ‘n rolprent oor die vervaardiging van sy 1982-album, Nebraska. Die rolprent met die titel Deliver Me From Nowhere, word deur Scott Cooper geskryf en vervaardig. Volgens Variety sal die fliek handel oor Springsteen en sy reis om sy sesde ateljee-album op te neem wat ʼn versameling donker liedjies sonder fieterjasies bevat en ʼn nuwe kunsrigting vir die rock-musikant inlui. White het onlangs ʼn Emmy gewen vir sy rol in The Bear.
# Dit is vandag Wêreld-teaterdag wat die belangrikheid van teaters in die vermaaklikheidsbedryf vier. Dit is in 1962 deur die Internasionale Teaterinstituut ingestel as ʼn dag waarop die skoonheid, skeppendheid, harde werk en kuns wat vereis word in elke aspek van teaterproduksie, gevier word. Die instituut sê teater word steeds gebruik om stories te vertel en dinge te sien, maar het ook ʼn uitwerking op kultuur en die groter samelewing.
# Die Stad Kaapstad het nog elf Breaking New Ground-huise aan kwalifiserende begunstigdes in die Gugulethu-behuisingsprojek oorhandig. Die voltooide projek sal een-duisend-en-vier huise beskikbaar stel aan bevoordeeldes en hulle gesinne. Die burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Carl Pophaim, sê die stad doen alles in sy vermoë om behuisingsgeleenthede vir die armes te voorsien:
# En, sokker: Bafana Bafana se gewese afrigter, Pitso Mosimane, sê hy voel geëerd en dankbaar vir die eredoktorsgraad wat die Universiteit van Johannesburg in Julie aan hom gaan toeken. Dit is uit erkenning vir sy sukses as ‘n speler en breier. Mosimane se prestasies sluit in die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se Afrigter van die Jaar-toekenning en die PSL Afrigter van die Seisoen wat hy vyf keer ontvang het. Mosimane, wat tans die hoofafrigter van die Abha-klub in Saoedi-Arabië is, sê dié eer is baie spesiaal:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….