Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Oscar-wenner Charlize Theron het by die sterbelaaide rolverdeling van Christopher Nolan se nuwe fliek aangesluit. Besonderhede oor die rolprent se storielyn is nog ‘n geheim. Die Suid-Afrikaanse aktrise, vervaardiger en filantroop sluit aan by bekendes soos Matt Damon, Tom Holland, Anne Hathaway, Zendaya, Lupita Nyong’o en Robert Pattinson. Universal en Nolan begin na verwagting middel volgende jaar met die vervaardiging van die opvolg van hul Oscar-bekroonde drama, Oppenheimer.
# Die Suid-Afrikaanse Staatsteater gaan ‘n stromingsplatform vir Suid-Afrikaners bekendstel om regstreekse optredes in die gemak van hul huis te ervaar. Die idee is ontwerp om die betowering van regstreekse teater na die gehoor te neem wat dit nie kan bywoon nie. Die artistieke direkteur van die teater, Aubrey Sekhabi, sê die platform sal ‘n verskeidenheid vertonings soos toneelstukke, musiekblyspele en ander regstreekse geleenthede aan gebruikers bied. Die diens tree Saterdag in werking.
# Die Africa Race Together-stigting gaan tydens die Kyalami 9-uur-geleentheid gasheer speel vir 215 graad 10- en 11-leerders van verskeie hoërskole in Gauteng. Dit is een van die grootste geleenthede op die Suid-Afrikaanse motorsportprogram, en die laaste ronde van die Suider-Afrikaanse Uithoureeks se Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskap vind ook daar plaas. Die stigting sê die leerders sal bekendgestel word aan loopbaanmoontlikhede in die motorsportbedryf, wat uit meer as die renjaer se rol bestaan. Die geleentheid vind Vrydag en Saterdag plaas.
# Die Stad Kaapstad sê tot 16-duisend speelgoed is geskenk as deel van die 42ste Kaapstadse Speelgoedlopie. Die jaarlikse liefdadigheidsveldtog samel speelgoed in vir kinders in pleegsorg, kinderhuise en plekke van veiligheid. Die metro se Brand- en Reddingsdiens het ook aan die insameling deelgeneem. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê hulle ondersoek nog maniere om soortgelyke insamelingsveldtogte regdeur die komende jaar te hou deur brandweerstasies as toeganklike aflaaipunte in te span.
# En ten slotte: Disney se jongste passasiersboot, die Treasure, stel ‘n aantal nuwe elemente bekend te midde van ‘n skerp toename in belangstelling in bootvaarte. Die Cruise Lines International Association berig dat 31,7-miljoen passasiers verlede jaar op bootvaarte gegaan het, wat sewe persent meer is as in 2019, kort voor die Covid-19-pandemie. Disney-aanhangers kan lafenis vind in die eerste kroeg ooit met ‘n Disney-tema, The Haunted Mansion, terwyl die sitkamer ‘n akwarium met ‘n spesiale effek het. Die Treasure sal volgende maand op sy nooiensvaart vertrek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….