Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Buitelandse rolprentproduksiebeleggings in Suid-Afrika het 2,52-miljard-rand bedra tussen November verlede jaar en Junie vanjaar, met beramings van meer as vyf-miljard-rand teen Oktober volgende jaar. Internasionale produksiespanne het tussen November 2023 en Augustus vanjaar meer as 59-duisend hotelbednagte bespreek, wat ‘n inspuiting van byna 148- miljoen-rand in die land se gasvryheidsbedryf was. Die bedryf het die afgelope agt maande 26-duisend-573 werksgeleenthede geskep. Die stigter van die Internasionale Toerisme-rolprentfees Afrika, James Byrne, sê die land se rolprentbedryf sal steeds bydra tot die uitbreiding van die ekonomie en internasionale toerisme.
# Die Hollywood supersterre Dwayne “The Rock” Johnson en Chris Evans se rolprent Red One het meer as ses-miljard-rand by meer as vier-duisend teaters in Noord-Amerika verdien in sy loketdebuut. Red One is die eerste behoorlike Kersfeesrolprent wat in teaters vertoon word sedert die Covid-19-pandemie van 2020. The Grinch het in 2018 geopen. Die rolprent kan strawwe mededinging verwag van nuwe vrystellings insluitend die langverwagte rolprent van Universal, Wicked, Paramount se Gladiator 2 en Walt Disney Animation se Moana 2.
# ‘n Regstudent in haar finale jaar aan die Rhodes Universiteit, Oyama Mzayidume, het die gesogte Rhodes-beurs vir 2025 ontvang. Sy is uit 22 finaliste gekies wat die hoogste getal aansoekers in agt jaar is. Agt uit die 22 aansoekers het die kortlys gehaal, en vier van hulle was van Rhodes. Mzayidume, wat vir ʼn B-graad in Siviele Reg en Handel studeer, sê die Rhodes-beurs is nie net op akademiese begaafdheid gemik nie, maar motiveer mense om die wêreld positief te beïnvloed.
# ‘n Suid-Afrikaanse uitgewer met ‘n maatskaplike inslag, Book Dash, vier ‘n dekade van hulp aan gemeenskappe deur geletterdheidsveldtogte. Book Dash het die afgleope tien jaar meer as vier-miljoen storieboeke gedruk en saamgewerk met meer as 200 organisasies sonder winsbejag. Die organisasie, wat in 2014 gestig is om toeganklike Afrika-storieboeke te verskaf, gebruik ‘n unieke 12-uur uitgewersmodel waar vrywilligers gratis storieboeke vir kinders skep. Book Dash poog om jaarliks ‘n miljoen boeke te druk en te versprei om sy reikwydte vergroot.
# En ten slotte: Die musieklegende, wyle Quincy Jones, en die ervare rolwerwer, Juliet Taylor, is met die Academy-eretoekenning vereer op die 15de Governors-toekennings in Los Angeles. Dis ʼn belangrike geleentheid in die toekenningseisoen en word beskou as die Motion Picture Academy se tweede grootste aand van die jaar naas die Oscars. Die Britse skrywer en regisseur, Richard Curtis, het die Jean Hersholt- humanitêre toekenning ontvang, en die James Bond-vervaardigers, Michael G Wilson en Barbara Broccoli, het die Irving G Thalberg-gedenktoekenning gekry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….