Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika en Nederland vier vandag Suid-Afrika se 30 jaar van demokrasie en voortgesette Nederlandse solidariteit op die Vryheidspark-erfenisterrein in Pretoria. Die Nederlandse ambassadeur, Joanne Doornewaard, sal die hoofrede lewer saam met die voormalige minister van Justisie en Suid-Afrika se ambassadeur in Swede, Brigitte Mabandla. Die geleentheid sal ook optredes deur die duo, Yamoria, en die Universiteit van Pretoria se jeugkoor insluit om gedeelde waardes rondom vryheid en eenheid te vier.
# Die ikoniese Suid-Afrikaanse Ndebele-kunstenaar, Esther Mahlangu, se gevierde uitstalling, Then I Knew I Was Good at Painting, is van Woensdag tot April volgende jaar by die Wits-kunsmuseum in Johannesburg te sien. Die uitstalling beeld Mahlangu se reis as kunstenaar uit deur argief-werke soos BMW Art Car, en ‘n reeks afdrukke wat sy in samewerking met wyle oudpresident Nelson Mandela gemaak het. Die kurator, Nontobeko Ntombela, sê Mahlangu se werk het ʼn diepgaande invloed op hedendaagse Suid-Afrikaanse kuns.
# Die legendariese sangeres, Dolly Parton, se Dollywood-stigting het meer as 800-miljoen-rand in die Nashville-openbare biblioteek belê om sy nuwe vroeë-geletterdheidprogram, Begin Bright, ʼn hupstoot te gee. Die program sal help dat elke kind in die stad in die Amerikaanse staat Tennessee op ʼn vroeë ouderdom begin lees. Volgens die biblioteek-stigting is hierdie belegging die belangrikste skenking in sy geskiedenis van 27 jaar. Parton sê sy hoop die program sal ʼn groot bydrae lewer om ʼn liefde vir lees by kinders en gesinne te vestig.
# Die Hollywood-akteur, skrywer en regisseur John Krasinski is aangewys as die tydskrif People se sexyste man wat leef vir 2024. Hy neem die mantel oor by Patrick Dempsey. Mel Gibson was 40-jaar gelede die eerste draer van die titel. Ander ontvangers sluit in Brad Pitt, George Clooney, John F Kennedy Junior, David Beckham, Michael B Jordan en Pierce Brosnan. Krasinski het aan die tydskrif vertel hy kon dit nie glo toe hy die nuus verneem nie:
# En ten slotte: ‘n Nuwe geslag grenspatrollie-opspoorders kan binnekort in Afrika se hawens begin werk en onwettig gesmokkelde goedere uitsnuffel. Die Afrika reuse-buidelrot is opgelei om ietermagog-skubbe, ivoor, renosterhoring en ander items van bedreigde spesies uit te ken. Hulle word in Tanzanië opgelei deur ‘n organisasie sonder winsbejag wat reuk-opsporingsdiere ontplooi. Die diere het ‘n ongelooflike reuksintuig, is rats en relatief goedkoop om te versorg, vergeleke met honde wat gewoonlik gebruik word. Die groep lei reeds rotte op om landmyne uit te snuffel en tuberkulose op te spoor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….