Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad is aangewys as die gasheerstad van WorldPride 2028 en word daarmee die eerste stad in Afrika wat dié internasionale geleentheid sal aanbied. WorldPride ondersteun LGBTQ+ Pride en bevorder die regte en sigbaarheid van dié gemeenskap wêreldwyd. Die leier van die WorldPride Kaapstad-bodkomitee, Michael Gladwin, sê dit is nie slegs ‘n oomblik vir Kaapstad nie, maar ‘n Pride vir almal in Afrika. Hy sê hulle is vasberade om ‘n blywende nalatenskap te laat.
# Die ou Johannesburgse Planetarium is in die moderne Wits Anglo-American Digitale Koepel omskep. Die koepel is die grootste van sy aard in die Suidelike Halfrond en is moontlik gemaak deur Anglo American en die Universiteit van die Witwatersrand se belegging van 90-miljoen-rand. Dit bied ‘n 360-grade-ervaring asook ʼn verskeidenheid vertonings aan besoekers van alle ouderdomme. Wits sê dit sal ook dien as moderne onderrig-perseel en navorsingsruimte waar wetenskaplikes en studente hulle werk kan visualiseer.
# Die Dataspan van die Fakulteit Inligtings- en Kommunikasietegnologie aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het die tweede plek vir Suid-Afrika losgeslaan in die 2024 IBM Z-datathon. Die doel van die kompetisie is om deelnemers te bemagtig om tegnologie vir ‘n betekenisvolle uitwerking te benut. Meer as nege-duisend mense uit 39 lande het daarvoor geregistreer en meer as 320 finale projekte is ingehandig. TUT sê die uiteenlopende agtergronde en uitgangspunte van die deelnemers het ‘n lewendige atmosfeer geskep en vernuwing en samewerking onder die ontluikende datawetenskaplikes aangewakker.
# Orbital deur Samantha Harvey het 2024 se Bookerprys gewen. Dis die Verenigde Koninkryk se gesogste prys vir fiksie. Die boek van 136 bladsye is die tweede kortste boek om te wen in die prys se geskiedenis van 55 jaar. Orbital is Harvey se vyfde roman en handel oor ʼn enkele dag in die lewe van ses ruimtevaarders. Sy is die eerste vrou sedert 2019 wat die prys wen, en sê dit sal haar lewe verander:
# En prins William is die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as die wêreld se seksieste kaalkopman. Dit is volgens Reboot Online, wat na verskillende faktore kyk, insluitend hoe blink die mans se koppe is en die goue verhouding, tussen die lengte van die gesig en glimlag. Die 42-jarige prins van Wallis het 9,9 uit ‘n moontlike tien punte gekry. Tweede op die lys is die Hollywood-superster Dwayne ‘The Rock‘ Johson met 8,9, gevolg deur die basketbalikoon Shaquille O’Neal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….