Goeie Nuus
BULLETIN 26 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Tshwane Universiteit van Tegnologie en die Teesside-universiteit in Engeland het ‘n ooreenkoms onderteken om verskeie projekte saam aan te pak. Die doel van die vennootskap is om wetenskaplike idees met mekaar te deel, uitruilstudente by te staan en gesamentlike programme te ontwikkel. TUT se vise-kanselier vir Navorsing, Vernuwing en Skakeling, Vathiswa Papu-Zamxaka, sê die ooreenkoms sal oor vyf jaar hersien word:
# Vier Suid-Afrikaanse leerders kry geleentheid om hulle navorsingsprojekte voor te lê en met ander tegniese wetenskaplikes mee te ding op vanjaar se Beijingse Jeug-wetenskapskompetisie in China. Die kompetisie, wat Donderdag begin, se tema is Ontdekking, vernuwing en verantwoordelikheid. Eskom Ekspo se uitvoerende direkteur, Parthy Chetty, sê Nyakallo Nonjabulo Mbongo, Kiyara Tami Swartbooi, Steffan Thielen en Rohan van Loggerenberg sal baat om aan die kompetisie deel te neem:
# Die bekroonde Suid-Afrikaans-gebore aktrise, Thuso Mbedu, was medeskrywer van ‘n afro-fantasie-strokiesprentreeks, Niobe: She-Tribe. Die Underground Railroad-ster het met die skrywer Sebastian A Jones kragte saamgesnoer om ‘n nuwe storie te skryf in die uitgewer se afro-fantasie-reeks, Tales of Asunda. Mbedu, wat onlangs aangewys is as L’Oréal se eerste swart handelsmerk-ambassadeur vir Afrika suid van die Sahara, sê sy het nooit gedink sy sal medeskrywer van ʼn strokiesprentboek wees nie.
# ʼn Dosent in Chemie aan die Universiteit Stellenbosch, Marietjie Lutz, gaan oor Paasnaweek van George na Stellenbosch fietsry. Dis ʼn afstand van ongeveer 600 kilometer. Die doel is om fondse in te samel vir voorgraadse B Sc-studente wat finansieel sukkel. Lutz sê sy het die idee vir die Wiele van Geleentheid-veldtog gekry toe sy in 2022 maniere probeer vind het om ʼn slim eerstejaarstudent te help:
# En, die Sweeds-gebore sangeres Snoh Aalegra van Iran is die eerste internasionale trekpleister wat gekies is om op 2024 se Rocking the Daisies-fees buite Darling in die Wes-Kaap op te tree. Sy is veral bekend vir liedjies soos I Want You Around en Do 4 Love. Aalegra, wat al vir ʼn Grammy benoem is, het saam met kunstenaars soos Alicia Keys en Drake gewerk. Rocking the Daisies vind van drie tot ses Oktober op die Cloof-wynlandgoed plaas. Die trotse Afrika- en Billboard-musiek-en-leefstylfees vier sy 19de bestaansjaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….