Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse sangeres Tyla het drie toekennings ingepalm op die MTV Europe-musiektoekennings wat in Manchester, Engeland, gehou is. Sy was die wenner van Beste R&B, Beste Afrobeats, en Beste kunstenaar uit Afrika. Die popsuperster Taylor Swift was die groot wenner met vier toekennings, naamlik Beste Kunstenaar, Beste Video vir haar samewerking met Post Malone aan Fortnight, Beste konsertvertoning, en Beste Amerikaanse bydrae. Onder die ander wenners was Eminem, Ariana Grande en Raye. Tyla sê sy is geëerd en geskok oor haar toekennings:
# Super/Man: The Christopher Reeve Story het al ses kategorieë gewen waarin hy op die Critics Choice– dokumentêre toekennings benoem is. Dit sluit in beste redigering en beste dokumentêre fliek, waar dit gelykop was met Will and Harper van Netflix. Sugarcane, wat vanjaar met agt die meeste benoemings ontvang het, het twee gewen: vir beste politieke dokumentêr en beste dokumentêr oor ware misdade. The Last of the Sea Women en Simone Biles Rising het ook twee toekennings elk gewen. Die beste geskiedkundige dokumentêr is The Greatest Night in Pop.
# Die derde en finale aflewering van Sony se strokiesprent trilogie Venom: The Last Dance, bly boaan die Noord-Amerikaanse loket. Die fliek, met Tom Hardy en Juno Temple as die sterre, het ‘n bykomende 2,8-miljard-rand in die derde naweek sedert sy vrystelling ingeoes. Die nuwe vrystellings, Lionsgate se The Best Christmas Pageant Ever en A24 se gru-riller Heretic, waarin Hugh Grant speel, was onderskeidelik tweede en derde. Universal en DreamWorks Animation se The Wild Robot het uitgesak na die vierde plek, met Smile 2 van Paramount wat die topvyf afrond.
# Project Hope SA het die 80-persent kerf bereik met die bring van Kersvreugde vir minderbevoorregte kinders in KwaZulu-Natal. Die veldtog wil feesplesier verseker vir 32 kinders van die Hills-sokkerklub. Elke geskenk, in ‘n versierde skoenboks, sluit tandepasta, seep, deodorant, ‘n sokkerbal en ‘n paar lekkers in. Die organisasie sê hy verwelkom steeds skenkings van maatskappye of indiwidue wat met hulle wil saamwerk aan die projek.
# En ten slotte: Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sê hy kon die hereniging bewerkstellig van ‘n Gautengse ma en haar dogter wat 22 jaar gelede vir aanneming opgegee is. Die dogter bly saam met haar aanneemgesin in Nederland. Dit was Saterdag Wêreld-Aannemingsdag en die departement se woordvoerder, Bathembu Futshane, sê aanneming bied kinders die geleentheid om ʼn liefdevolle, bestendige tuiste te hê en dit kan lewens vir altyd verander:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….