Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit Stellenbosch se Departement van Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese het ‘n hipermoderne navorsingsplatform bekend gestel wat die weg baan vir mensagtige robots. Doktor William Duckitt van die universiteit sê die baanbrekerplatform stel gevorderde robotika-tegnologie ten toon en demonstreer die krag van inter-dissiplinêre samewerking in ingenieurswese. Hy voeg by die mensagtige robot staan ten volle regop met ‘n funksionele torso en ‘n regterarm en hand wat in volle werking is terwyl die linkerarm voltooiing nader:
# Die Universiteit van Pretoria het sy top-akademici vereer op sy 24ste jaarlikse Akademiese Presteerderstoekennnings. Altesaam 114 wenners is in ses kategorieë erken. Dit sluit in 96 akademici vir hulle benoeming op die lys geleerdes van die Nasionale Navorsingstigting vir uitstekende werk die afgelope jaar. Die universiteit se vise-kanselier, Francis Petersen, sê die pogings en prestasies van die akademici verseker die instelling se voortgesette sukses as ‘n navorsingsuniversiteit.
# Vier jong Suid-Afrikaanse vroue-kodeerders is gekies om WeThinkCode en Afrika se Blockchain Club by Devcon 7 in Thailand te verteenwoordig. Dit is een van die wêreld se voorste blockchain-konferensies. Maite Lemekoana, Lindokuhle Mlilo, Sandile M’remi en Genevieve Shabangu kom van townships in Phalaborwa, Temibsa en Soweto. Hulle gaan hulle innoverende koderingsprojek, OffConnectX, bekendstel wat die uitdaging van onbetroubare internetverbindings in plattelandse gebiede in Afrika aanpak.
# Die Johannesburgse Bach-koor spog met ‘n paar nuwe jong gesigte op sy komende konsert in die St Johns College-kapel in Houghton op die 17de van die maand. Die nuweling Monde Ngwane sal ‘n solo lewer. Die geleentheid is ook die laaste keer dat die uittredende musiekdirekteur, Tim Roberts, die koor sal dirigeer. Hy het die koor die afgelope 15 jaar gelei. Die eerste konsert van die koor is op 1 September 1964 in Bramley gehou.
# En ten slotte: Die skrywer en vervaardiger, Simon Kinberg het ‘n ooreenkoms met Lucasflim gesluit om die draaiboeke vir drie Star Wars-rolprente te skryf en te vervaardig. Kinberg is die medeskepper van die geanimeerde reeks Star Wars: Rebels saam met Dave Filoni en Carrie Beck. Die Emmy-benoemde reeks is oor vier seisoene van 2014 tot 2018 vertoon. Kinberg is veral bekend vir die skryf en vervaardiging van verskeie X-Men-rolprente vir 20th Century Fox, insluitend 2006 se The Last Stand, en 2016 se Deadpool. Kinberg se Star Wars-trilogie het geen datum vir vervaardiging vasgestel nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….