Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 November
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Prins William het sy vierdaagse besoek aan Suid-Afrika afgeskop deur jong omgewingsbewustes van Afrika en Asië te ontmoet en saam met plaaslike skoolkinders in Ocean View, Kaapstad, rugby te speel. Die hoofdoel van sy besoek is môre se jaarlikse Earthshot-prysuitdeling in die stad wat op omgewingsvolhoubaarheid fokus. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê dis ‘n groot eer dat die toekenningseremonie in die provinsie aangebied word:
# Die Grootbos- privaat natuurreservaat is een van die ontvangers van die Globale Verantwoordelike Toerisme-toekennings. Die vyfster-eko-lodge in Gansbaai in die Wes-Kaap het die toekenning ontvang in die afdeling vir indiensneming van, en vaardigheidsontwikkeling vir plaaslike gemeenskappe in gasvryheid, tuinbou, entrepreneurskap en bioverskeidenheid. Ander ontvangers sluit in die Rajasthan Studio in Indië en die Sivatel Bangkok-hotel in Thailand.
# SANParke het die veiligheid en infrastruktuur by sy 21 parke verbeter, met die oog op die feestyd. Belangrike maatreëls sluit in honde-eenhede, lugondersteuning, gemeenskapsvennootskappe en gesamentlike bedrywighede vir verbeterde besoekersveiligheid. Woordvoerder, JP Louw, sê infrastruktuurverbeterings ter waarde van 1,1-miljard-rand, is deur die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing befonds, ook in die Krugerwildtuin en die Addo-olifantpark. Hy het verder bevestig vrywilligersveiligheidsdienste is op Tafelberg van stapel gestuur. SANParke vra besoekers om tydens die opknappings geduldig te wees en die veiligheidsriglyne te volg.
# Die Stad Kaapstad het die kunstenaars bekendgemaak wat vanjaar optree wanneer die stad se Kersliggies op 1 Desember in Adderleystraat aangeskakel word. Dit sluit kunstenaars in soos Mafikizolo, Fagrie Isaacs en Candice Thornton, reggae-legendes Dr Victor en die Rasta Rebels, en die bekroonde platejoggie en musiekvervaardiger, Mörda. Die geleentheid word gelei deur die komediante, Alan Committie en Lunga Tshuka. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê dis ʼn geleentheid om saam te kom en dit wat nog kom te vier.
# En ten slotte: Japan het die wêreld se eerste houtsatelliet, LignoSat, na die Internasionale Ruimtestasie gelanseer. Hierdie palmgrootte satelliet, wat Kyoto Universiteit en Sumitomo Forestry ontwikkel het, sal 400-kilometer bokant die aarde wentel en die duursaamheid van hout vir moontlike maan- en Mars-sendings toets. Die satelliet is gemaak van honoki-hout en LignoSat stel hiermee ‘n hernubare, lae-besoedelings-alternatief bekend vir metaal satelliete. Wetenskaplikes sê indien dit suksesvol is, kan dit toekomstige volhoubare ruimte-konstruksie tot gevolg hê, met toepassings van datasentrums tot maanbehuising.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….