Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê die Somerveldtog skep ‘n goeie platform om Suid-Afrika te bevorder as ʼn aantreklike bestemming wat plaaslike en internasionale reisigers moet sien. Sy het die veldtog in die Vrystaat bekendgestel. De Lille sê die doel is om mense aan te moedig om meer te reis, weggesteekte juweeltjies te ontdek en alle dele van die land te besoek:
# Kampsbaai in Kaapstad is eerste onder die top-30 leefstyle wat mense in Suid-Afrika begeer. Dit is volgens ʼn meningspeiling wat Top10OnlineCasinos onder drie-duisend Suid-Afrikaners gedoen het. Kampsbaai is knus tussen die Twaalf Apostels en die asuurblou Atlantiese Oseaan geleë en is gewild onder plaaslike en oorsese besoekers. Clifton, ook in Kaapstad, is tweede, gevolg deur Plettenbergbaai, en Sandton in Johannesburg in die vierde plek.
# Die Universiteit van Kaapstad se Kunsversamelingskomitee maak goeie vordering met die ontginning van kuns se hervormingsvermoë. Hulle wil daarmee inklusiewe ruimtes skep om kritieke gesprekke en kennis aan te moedig. Die universiteit spog tans met ‘n kunsversameling van sowat een-duisend-600 kunswerke in 70 geboue. Die komitee se voorsitter, Nomusa Makhubu, sê hulle konsentreer daarop om ‘n bydrae te lewer tot instellings- en maatskaplike hervorming:
# Die Universiteit van Suid-Afrika sê voorbereidings vorder goed vir volgende maand se Vernuwingsfees. Vanjaar se tema is Innoverings wat ‘n uitwerking op die samelewing sal hê. Die fees is oop vir die innoveringsgemeenskap, insluitend navorsers, akademici, beleggers, entrepreneurs en Unisa se personeel en studente. Die uitvoerende hoof van Imagine Worldwide, Rapelang Rabana, is een van die hoofsprekers. Sy het voor haar 30ste verjaardag op die voorblad van ForbesAfrica verskyn en is aangewys as die Forum vir Wêreld-entrepreneurskap se Wêreldwye Entrepreneur. Die Wêreld-ekonomiese forum het Rabana ook as Jong Wêreldleier gekies.
# En ten slotte: ‘n Onbekende wals wat Chopin byna 200-jaar gelede gekomponeer het, is ontdek in die kluis van die Morgan-biblioteek en -museum in New York. New York Times berig ‘n kurator het afgekom op die werk op ‘n kaart met Frédéric Chopin se naam daarop geskryf. Die Poolse komponis is in 1849 op 39-jarige ouderdom dood, en nuut-ontdekte werke van hom is skaars. Sy hart word in versterkwater bewaar in ‘n kerk in Warskou. Die museum glo die musiek dateer uit tussen 1830 en 1835.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….