Goeie Nuus
BULLETIN 25 Maart
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die skrywer Deon Meyer en aktrise Jana Cilliers is van die mense wat vanjaar vereer word op die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees wat tans in Oudtshoorn plaasvind. Die fees wil kuns-bydraes in onder meer letterkunde, toneelspel en beeldende kunste in die Afrikaanse gemeenskap vereer. Die DA se Wes-Kaapse woordvoerder vir Kultuursake en Sport, Gillion Bosman, sê die fees bevorder ook ekonomiese groei in die streek:
# ‘n Vernuwende program, My Journey, is in Ga-Rankuwa en Soshanguve in Gauteng ingestel om omvattende en maklik toeganklike seksuele en reproduktiewe gesondheidsdienste te bied. Die veldtog het 15- tot 24-jariges in die visier en help hulle met kennis oor gesondheid en welstand. My Journey is deur die Networking HIV and Aids Community of Southern Africa ingestel. Die programbestuurder, Colleen Wagner, sê dis belangrik om ʼn oordeelvrye sone te skep waar jongmense beheer kan neem oor hulle seksuele gesondheid.
# Drie skole in KwaZulu-Natal het baat gevind by die Pick n Pay-skoolklub se plastiek-herwinningsveldtog. Die veldtog, in samewerking met Polyco se Million Plus-program, wil jong leerders opvoed oor die belangrikheid van plastiek-herwinning. AYS Memorial Primary School, Mahatma Primary School en Parklands Primary het onlangs herwinde plastiek-kosblikke, waterbottels, pette en T-hemde ontvang. Die klub voorsien meer as 2,6-miljoen leerders en meer as 140-duisend opvoeders in twee-duisend-600 skole van opvoedkundige herwinnings-materiaal, infrastruktuur en bewusmakings-projekte om herwinningsgedrag reeds van jongs af aan te wakker.
Steeds in die provinsie: Die Sukuma Lower Primary School in KwaZulu-Natal het die Mangosuthu Universiteit vir Tegnologie se Engelse lees-kompetisie gewen. Vier townshipskole in Umlazi het aan die kompetisie deelgeneem, met elke skool wat deur vyf Graad Vier-leerders verteenwoordig is. Leerders is beoordeel in die kategorieë vlotheid, volume, leesprestasie, uitdrukking, aanbieding en vaardighede. Die universiteit sê die kompetisie was deel van sy pogings om ‘n kultuur van lees aan te moedig en by te dra tot die verbetering van onderwys in die gemeenskap.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad sê sy water-aërobiese en leer-swem-program is ʼn groot treffer onder ʼn groep van 60 senior burgers. Die program wat in Januarie begin het, bied ʼn verfrissende en verjongende benadering tot fiksheid en water-bedrywighede. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê een van die deelnemers, die 74-jarige Esmé Ross, sê die program gee haar nuwe krag:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….