Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die somer kom nader en Suid-Afrika se strande skitter as bekroonde bestemmings van omgewings-uitnemendheid. Die Natuurlewe- en Omgewingsvereniging van Suid-Afrika het die Blouvlag- en Groenkustoekennings vir 2024/’25 aangekondig, wat 48 strande, vier marinas en sewe toerismebote lof toeswaai vir hul verbintenis tot volhoubaarheid. Die nuweling Pennington-strand in KwaZulu-Natal is nou deel van die Blouvlag-familie, terwyl ‘n proefstrand soos Paternoster aan die Weskus graag wil gradeer. Die toekennings is ʼn erkenning aan gemeenskapsgedrewe bewaringspogings, wat Suid-Afrika se toewyding bewys om sy kusskatte vir toekomstige geslagte te bewaar.
# Die Hugenote-tonnel-opgraderingsprojek tussen Worcester en die Paarl, wat na raming 4,5-miljard-rand gaan kos, het ten doel om die Wes-Kaapse ekonomie ‘n hupstoot te gee. Die projek kan die doeltreffendheid van vervoer verbeter en broodnodige werksgeleenthede skep. Dit sluit ‘n nuwe noordwaartse tonnel in, wat na verwagting oor drie jaar oopgestel sal word, en ‘n sluiting van ‘n jaar vir opgraderings aan die suidwaardse tonnel. Hierdie projek sal werksgeleenthede in die boubedryf skep en ook sektore soos die landbou bevoordeel.
# Atletiekklubs in die Wes-Kaap het ʼn fondsinsamelingsveldtog van stapel gestuur om brandbestryders van Werk met Vuur se gesinne te ondersteun. Die atletiekklubs van Pinelands, Hewat, Bredasdorp en Atlantic het tien-duisend-rand en noodsaaklike artikels soos sanitêre produkte en skryfbehoeftes ingesamel. Hierdie bydraes word ingesluit by versorgingspakkies wat aan die einde van die jaar aan brandbestryders se kinders gegee word uit erkenning vir die opofferings wat hierdie helde van die gemeenskap maak. Werk met Vuur het hulle dankbaarheid betuig en sê die klubs se goedhartigheid maak ʼn positiewe verskil.
# ‘n Vrou wat alleen op ‘n staptog in Australië se Snowy Mountains vermis geraak het, is verward en beseer gevind nadat ‘n slang haar vermoedelik gepik het. Sy was byna twee weke vermis en owerhede het ses dae lank na haar gesoek. Die 48-jarige Lovisa Sjoberg is op ‘n staproete in die Kosciuszko Nasionale Park, suidwes van die hoofstad, Canberra, gevind. Die polisie sê dis ‘n wonderwerk sy het oorleef nadat ‘n giftige koperkop-adder haar vermoedelik gepik het. Die slang se byt is uiters pynvol en potensieel dodelik.
# En ten slotte: Amerikaanse wetenskaplikes het ‘n kommersiële toestel ontwikkel vir mense wat sukkel om te slaap, sonder om hulle tot slaapmiddels te wend. Die span van Massachusetts Institute of Technology beskryf die uitvinding as ‘n kopband wat min ontwrigting veroorsaak en in werklikheid ‘n EKG is wat klankgolwe stuur om breinstreke beter te belyn om te kan slaap. GoodNewsNetwork berig ‘n klein studie het bevind mense wat gewoonlik sukkel, het 10 tot 15 minute vinniger aan die slaap geraak met die kopband, bekend as die Elemind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….