Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Reik na ‘n Droom stel agt nuwe Droomkamers bekend in hospitale regoor die land. Hulle sê hierdie vrolike ruimtes bied kinders ‘n speelse ontsnaproete van die uitdagings van langtermynbehandeling, sodat hulle weer die vreugdes van kindwees kan herontdek. Hospitale, insluitend Tygerberg in Kaapstad, Steve Biko in Tshwane en Charlotte Maxeke in Johannesburg, sal hierdie genesingsruimtes teen die einde van die jaar huisves, wat die totale aantal Droomkamers landwyd op 46 te staan bring.
# Koorgeesdriftiges en musiekliefhebbers in die omgewing van Nelson Mandelabaai word vanaand getrakteer wanneer die Nelson Mandela-universiteitskoor sy jaareindkonsert aanbied. Daar is ook optredes deur die Koor van die Klankgroep van die Suidkampus en die koor van die Fakulteit Opvoedkunde, wat ʼn aand van uitstekende koormusiek en samewerking beloof. Die tema is Wortels en Vlerke, en die konsert kyk terug op die ryke erfenis van die universiteitskoor die afgelope 30 jaar, asook werke wat gedurende daardie jare uitgevoer is, en dek ook toekomstige projekte om vorm te gee aan die klank van die koor.
# Kuns en ʼn gees van samehorigheid het saamgespan en 28-duisend-rand by ʼn kunsuitstalling ingesamel ter ondersteuning van die Skoonmaakprojek-spanne in Benoni aan die Gautengse Oos-rand. Die 14de jaarlikse Art Alive-uitstalling, ondersteun deur die Rotariërklub van Benoni Aurora, het met plaaslike talent gespog en 97 kunswerke is verkoop. Die organiseerders sê die geleentheid het bewys hoe kuns en kultuur positiewe verandering teweeg kan bring. Die geld sal skoonmaakpogings en opvoedingsprogramme ‘n hupstoot gee.
# Die 2024 South African Future Trust-beraad se uitvoerende hoof, Nico Jacobs, sê die geleentheid wil opkomende sakeondernemings ondersteun deur hulle met beleggers en hulpbronne in aanraking te bring. Honderde entrepreneurs het die eerste dag van die beraad in die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg bygewoon om groeigeleenthede te ondersoek. Sowat 174 uitstallers het vernuwende ondernemings uit die townships en plattelandse dorpe vertoon. Jacobs het aan die SABC gesê die beraad se rol is om samewerking en ekonomiese ontwikkeling te bevorder:
# En die Universiteit van die Wes-Kaap se Departement Dieetkunde het sy heel eerste voedseltuin op die kampus bekendgestel. Daar is ʼn toenemende neiging onder universiteite reg oor die wêreld om voedseltuine te begin, dikwels as deel van hulle dieetkunde- of volhoubaarheidsprogramme. Die dieetkunde-student Elsabé Nel sê die tuin is gemik op die eerste twee doelwitte van geen armoede of hongersnood, en die volhoubare gebruik van grond-ekostelsels:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….