Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Kaapstadse hawe is op die Wêreld-reistoekennings aangewys as Afrika se voorste passasierskiphawe. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die hawe dié toekenning ontvang. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese groei, James Vos, sê hierdie erkenning beklemtoon die hawe se toenemende bekendheid in die plesiervaartbedryf. Agt-en-tagtig skepe en sowat 130-duisend passasiers word in die 2024/’25-seisoen verwag. Vos sê elke boot wat in die hawe aandoen, dra 100-miljoen-rand by tot die plaaslike ekonomie.
# Die tydskrif National Geographic het die 25 beste plekke ter wêreld vir reise in 2025 onthul. Dit sluit in Guadalajara in Mexiko, wat gewild is vir sy mariachi-fees, Haida Gwaii, wat ‘n reeks eilande aan die kus van Brits-Colombia is, en Bangkok om die 17-de eeuse Boeddhistiese tempel Wat Chaiwatthanaram te besoek. Die Ierse stad Cork, wat die tuiste is van die ster van Oppenheimer, Cillian Murphy, is ook op die lys vir sy lewendige kultuur. Die hoofredakteur van National Geographic, Nathan Lump, sê die lys vier die vreugde van reis en die opwinding van ontdekking.
# Die Universiteit van KwaZulu-Natal se Kunsskool en Sentrum vir Jazz en Popmusiek hou op een November sy eerste jaarlikse musiekfees. Die konsert waar talle genres gehoor sal word, vier die verskeidenheid in die universiteit se Musiekdepartement. Daar sal vertonings wees deur die African Music and Dance Ensemble, die UKZN Jazz Ensemble en grepe deur UKZN-operastudente uit ‘n Zoeloe-vertaling van Mozart se Die Towerfluit, Umtshingo wemilingo. Kaartjiepryse vir die musiekfees wissel van 80- tot 180-rand.
# Die Rhodes Universiteit in Makhanda het die 26-jarige plaaslike kunstenaar Lithemba Nziweni se fotografiereeks, Hairitage, in sy akademiese leerplan opgeneem. Die grondslag van die reeks is ‘n genuanseerde ontginning van identiteit, kultuur en geskiedenis deur die lens van hare as ‘n simbool. Die reeks verskaf ‘n platform vir kritieke skakeling met temas van dekolonisasie, identiteitspolitiek en verteenwoordiging. Die universiteit sê terwyl dié prestasie belangrik is vir Nziweni se loopbaan, is dit ook ‘n embleem van die instelling se voortdurende poging om verskeidenheid te vier en die belangrikheid te erken van plaaslike vertellings.
#
# En ten slotte: Die uitvoerende hoof van die Santa-skoenboksprojek, Deb Zelezniak, sê meer as 65-duisend beloftes is reeds ontvang, wat toon hoe vrygewig Suid-Afrikaners is. Die projek versamel en versprei elke jaar persoonlike geskenke met noodsaaklike items en bederfies vir minderbevoorregde kinders in Suid-Afrika en Namibië. In die 18 jaar sedert sy ontstaan is meer as 1,2-miljoen kinders bereik. Meghann Louwrens van die projek sê hulle het gegroei van ‘n eenvoudige geskenk-veldtog tot ‘n projek wat volgehoue verandering in gemeenskappe teweeg bring:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….