Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Tshwane sê alles is gereed vir Saterdag se lugskou by die Wonderboom nasionale lughawe. Die metro sê die geleentheid beloof om ‘n opwindende dag te wees vol skouspelagtige, adrenalien-gevulde lugvertonings deur Suid-Afrika se voorste vertoon- en kunsvlieëniers. Een van die dag se hoogtepunte is ʼn reeks asemrowende vlugte deur die Goodyear Eagles met hul doodsveragtende toertjies.
# Kaapstad se jaarlikse aanskakel van die feesliggies in Adderleystraat en die konsert op die Parade sal weer op 1 Desember plaasvind. Vanjaar se tema is Kaapstad: Mense van Hoop. Die metro sê dié ikoniese geleentheid, wat vir die 55ste jaar aangebied word, verenig mense van alle kulture, agtergronde en ouderdomme van reg oor Kaapstad – en selfs verder. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die geleentheid is die perfekte plek waar gesinne, vriende, plaaslike inwoners en internasionale besoekers saam kan kuier in die hart van een van die wêreld se voorste bestemmings.
# ‘n Nuwe uitstalling by die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York help bewustheid oor vroueregte te skep deur die werk van straatkunstenaars van oor die wêreld heen. Die uitstalling, Straatkuns is Vroulik, is ‘n viering van kuns se vermoë om vrede en liefde te kweek, maatskaplike inklusiwiteit aan te moedig en gelykheid en verskeidenheid te bevorder. Twee spesiale afdelings is by die uitstalling ingesluit van manlike straatkunstenaars wat geslagsgelykheid ondersteun, en van kunstenaars wat straat- en stadskuns deur middel van kunsmatige intelligensie skep.
# Die ikoniese, tweemalige Grammy-wenners en platinum-treffergroep, Kool and the Gang, toer volgende maand deur Suid-Afrika. Hulle spog met treffers soos Celebration, Cherish, Jungle Boogie en Summer Madness. Die groep is Saterdag in Cleveland in Rock and Roll se heldesaal opgeneem saam met kunstenaars soos Cher, Ozzy Osbourne en Mary J Blige. Kool and the Gang tree op 28 November by GrandWest in Kaapstad op en die 30ste in die SunBet Arena op Time Square in Pretoria.
# En ten slotte: Handshake Speakeasy in die byderwetse Colonia Juarez-buurt in Mexikostad is deur die World’s 50 Best-vereniging as die wêreld se beste kroeg aangewys. Dit was verlede jaar derde op die lys. Bar Leone in sy Italiaanse styl in Hongkong is tweede en verlede jaar se nommer een, Sips in Barcelona, is derde. Tayer & Elementary in Londen en Jigger and Pony in Singapoer is ook onder die top-vyf. Die jaarlikse lys word saamgestel volgens die menings en ervarings van 700 internasionale kenners in die kroegbedryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….