Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Afrika se grootste boottentoonstelling, Boatica Cape Town, word weer dié naweek by die V&A-Waterkant in Kaapstad aangebied. Vanjaar se skou spog met plaaslik vervaardigde bote wat wêreldwyd gesog is, die jongste boottoerusting, watersportapparate en die modernste seevaarttegnologie. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê Boatica is ‘n hoogtepunt vir die bedryf, want dit is ‘n vertoonstuk vir vernuwing, talent en die vaardighede van bootbouers:
# Die Kersfees-kinderboekveldtog, Charity Begins With Me, het op ‘n hoë noot weggespring. Die skrywer Reinette Lombard het bokse vol boeke van haar Tippie-reeks geskenk. Dié boekies met hul olifant-karakter en kleurvolle prente leer kinders in hulle moedertaal lees. Die organisasie sê die bydrae sal nie net seker maak minderbevoorregte kinders het ʼn geskenk om op Kersdag oop te maak nie, maar ondersteun ook hulle geletterdheidsreis. Mense kan nog tot 30 November skenkings bydra en boeke kan in Fairlands, Johannesburg, afgelewer word.
# Die Buffalo City-munisipaliteit in die Oos-Kaap doen ‘n beroep op jongmense in die metro om aansoek te doen vir beurse deur die Burgemeestersbeursfonds. Aansoeke vir 2025 is nou open. Die beursfonds bied finansiële bystand vir studente uit voorheen-benadeelde gemeenskappe en dek registrasiefooie, klasgelde, voorgeskrewe boeke, studiemateriaal en huisvesting. Die metro se woordvoerder, Samkelo Ngwenya, sê sedert die stigting van die fonds in 2008, het 113 begunstigdes gegradueer.
# Die Stad Tshwane in vennootskap met die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het ‘n suksesvolle driedaagse Varsity-hackathon gehou. Die sesde jaarlikse geleentheid is gemik op die vestiging van samewerking, kreatiwiteit en probleemoplossing onder studente en jong beroepslui. Zintle Mahlati van die metro sê die wenners van die hackathon sal volgende Vrydag hulle oplossings op ‘n toekenningseremonie voorlê:
# En ten slotte: Die Amerikaanse president, Joe Biden, het vermaakkunstenaars soos Steven Spielberg, Missy Elliott, Spike Lee en Queen Latifah in die Withuis vereer. Hy het die ontvangers van 2022 en ’23 se nasionale medaljes vir Kunste en Geesteswetenskappe vereer. Die Kunste-medalje is die hoogste eer wat aan kunstenaars toegeken word en gee erkenning aan uitstaande persone en organisasies wat die kunste in Amerika bevorder. Die kategorie vir geesteswetenskappe het die onderwysers Robin Harris, Robert Martin en Ruth J Simmons ingesluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….