Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# GENUS Africa en Ancient Odysseys span saam om reisigers geleentheid te gee om Suid-Afrika se rykdom aan natuurlike en kulturele erfenisterreine eerstehands te ervaar. Hulle bied twee vakansies aan waartydens paleontologiese uitgrawings gedoen word. Een hiervan is die Hominied-uitgrawing in die Wieg van die Mensdom, ‘n UNESCO-wêrelderfenisterrein waar 40-persent van die wêreld se fossiele van die mens se voorouers ontdek is. Die ander een, die Karoo-fossieluitgrawing, bied geleentheid om die aarde se verre verlede te ontdek. Verantwoordelike toerisme is die grondslag van hierdie paleontologiese vakansies.
# Die Universiteit van Kaapstad se Sakeskool sê hy werk hard om groepe uitsonderlike senior bestuurders byeen te bring wat beide persoonlike en professionele groei najaag. Brittanje se Financial Times het die Sakeskool 31ste ter wêreld geplaas in sy Uitvoerende Meester van Sake-administrasie-alumni-tevredenheid. Die skool het 27ste gekom vir die geslagsverskeidenheid van sy studente. Financial Times kry ‘n aansienlike deel van die data wat hy gebruik in sy programbeoordelings regstreeks van alumni, waaronder data oor oorhoofse tevredenheid en loopbaanvordering.
# Triveni Turbines het in samewerking met Eskom Rotek Industries beurse ter waarde van 1,6-miljoen-rand aan 18 studente van die Universiteit van Pretoria toegeken. Een van die begunstigdes is die eerstejaarstudent Nkosithembekile Duba wat met ʼn BA in tale besig is. Triveni Turbines se besturende direkteur, Christo du Plooy, sê hulle glo hulle bou die land en die ekonomie deur jongmense met beurse te help. Hy moedig studente aan om passievol te bly en nooit op te hou leer nie.
# Paramount se gru-riller-opvolg Smile 2 was in sy openingsnaweek bo-aan die loketlyste in Noord-Amerika, en het meer as 405-milljoen-rand ingeoes. Die sielkundige riller-opvolg, met ‘n R-gradering, is geskryf en geregisseer deur Parker Finn, met die sterre Naomi Scott, Lukas Gage en Rosemarie DeWitt. Universal en DreamWorks Animation se The Wild Robot, met Lupita Nyong’o as die hoofspeler, is steeds in die tweede plek in die vierde week van vrystelling. Terrifier 3, van Cineverse, is in die derde plek.
# En ten slotte: Koningin Camilla het die droom van ʼn 12-jarige seun laat waar word om ʼn lid van die koninklike familie te ontmoet. Die 12-jarige seun het saam met sy suster Charlotte blomme aan die koningin oorhandig. Ky lei aan ‘n ernstige bloedtoestand bekend as aplastiese anemie en sy lewe is gered nadat Charlotte beenmurg aan hom geskenk het. Hy stel belang in die koninklikes sedert sy pa speelgoed met ‘n koninklike tema vir hom gekoop het. Ky sê hy hou van hulle liefdadigheidswerk en Charles is sy gunsteling.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….