Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse komediant en voormalige aanbieder van Daily Show, Trevor Noah, se nuwe boek, Into the Uncut Grass, is heel boaan die New York Times se topverkoperlys. Die boek handel oor ‘n jong kind se reis in die wêreld verby die skadu van ‘n huis, na ‘n magiese landskap waar hy die geheime van mededeelsaamheid, verbondendheid en vrede ontdek saam met mense wat hy liefhet. Die boek wat deur Christopher Myers geïllustreer is, volg op Noah se suksesvolle memoire, Born a Crime.
# Die Universiteit van Pretoria het 19 alumni op ‘n noenmaal vereer nadat hulle 2024 se Mail & Guardian 200 Young South Africans-lys gehaal het. Die getal studente wat vanjaar erkenning gekry het, is sowat 9,5-persent van die 200 benoemdes. Sedert die instelling van die toekennings is meer as 210 van die universiteit se personeellede, studente en alumni vereer. Die vise-kanselier, professor Francis Petersen, sê die 19 alumni is vereer vir hulle oplossingsgedrewe, gemeenskapsgerigte bydraes in verskeie sektore.
# Die tweemalige Grammy-bekroonde musikant, Wouter Kellerman, is een van vier mense wat ‘n eredoktorsgraad van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie ontvang het. Die ander is die gevierde kunstenaar en akademiese en kulturele kommentator, professor Pitika Ntuli, die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar, kurator en kunsaktivis, Bongiwe Dhlomo-Mautloa, en die eerste president van Mosambiek, Samora Machel, aan wie ʼn eredoktorsgraad in Openbare Sake postuum toegeken is. TUT sê hierdie mense het buitengewone bydraes tot die samelewing gelewer.
# Altesaam 102 rolstoele is aan nege skole, hospitale en gemeenskapsorganisasies in Gauteng oorhandig. Dit is deel van ‘n samewerkingsprojek van die Oxford-sentrum vir Godsdiens, Openbare Lewe en Sekerheid in Afrika en die Buddha’s Light-internasionale vereniging. Drie soorte rolstoele is versprei vir volwassenes en kinders, asook leunstoele vir mense wat aan serebale gestremdheid ly. Twaalf ander rolstoele sal in die toekoms gebruik word om toegang tot en beweeglikheid op die kampusse van die Universiteit van Pretoria te verbeter.
# En ten slotte: Die karateka Luchay Weideman en die gholfspeler JP van der Watt is aangewys as die Nelson Mandela-universiteit in die Oos-Kaap se sportvrou en sportman van die jaar op die jaarlikse Madibaz-sporttoekennings. Die 22-jarige Weideman het op twee nasionale toernooie nog nege goue en twee silwermedaljes gevoeg by vanjaar se oes. Die 23-jarige Van der Watt was vroeër vanjaar die naaswenner in die SA-amateurkampioenskap. Gerhard Posthumus het die toekenning vir sportafrigter van die jaar vir atletiek ontvang en die sportspan van die jaar is Madibaz Gholf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….