Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Sesmaandelikse MIV-voorkomingsinspuiting met lenacapavir was doeltreffend in twee deurslaggewende studies. Die eerste, PURPOSE 1, het getoon daar was geen MIV-besmettings onder twee-duisend-134 deelnemers nie, en die tweede, PURPOSE 2, het net twee besmettings onder twee-duisend-179 deelnemers opgelewer. Dit kom neer op ‘n 96-persent-vermindering in besmettings. Gilead Sciences beplan om aansoek te doen om reguleringsgoedkeuring om lenacaparvir vir voorkoming te bemark. Dit is tans in sommige lande geregistreer vir behandeling, maar nog nie in Suid-Afrika beskikbaar vir voorkomende gebruik nie.
# Die Suid-Afrikaanse fliek, The Queenstown Kings, het 15 benoemings ontvang vir die Africa Movie Academy Awards. Die fliek wat deur Jahmil XT Qubeka geregisseer is, handel oor ‘n amateur-sokkerspan se reis van stowwerige sokkervelde tot die hoogste vlak. Zolisa Xaluva en Unati Faku is onderskeidelik benoem as Beste Akteur en Aktrise in ʼn hoofrol. Ander benoemings sluit in Qubeka s’n vir Beste Regisseur en een vir Beste Rolprent in ʼn Afrikataal. Die toekenningsgeleentheid vind op 2 November in Lagos, Nigerië, plaas.
# Die Nobelprys vir Ekonomie is toegeken aan Daron Acemoglu, Simon Johnson en James Robinson van die Verenigde State vir hul baanbreker-navorsing oor rykdom-ongelykhede tussen nasies. Hul werk beklemtoon hoe politieke en ekonomiese instellings, veral Europese kolonialisering, nasionale welvaart beïnvloed het. Jakob Svensson van die Nobel-komitee het die belangrikheid van hul bevindings beklemtoon en sê die vermindering van inkomsteverskille is een van vandag se grootste uitdagings:
# Die beroemde Italiaanse modeontwerper, Giorgio Armani, sê hy beplan om binne die volgende twee of drie jaar af te tree. Die 90-jarige is stewig in beheer van sy sakeryk wat hy bykans 50-jaar gelede gestig het. Armani het die modehuis in 1975 gestig en die volgende jaar sy eerste reg-om-te-dra-versamelings aangebied. Hy is kinderloos en sy erfgename sal na verwagting sy suster insluit, asook drie ander familielede wat by die maatskappy werk, sy langtermyn-medewerker en vennoot, Pantaleo Dell’Orco, en ‘n liefdadigheidstigting.
# En ten slotte: Die Smithsonian-nasionale dieretuin wag vandag op die aankoms van twee reusepandas, Bao Li en Quing Bao, uit China. Die twee is die eerste pandas wat China in 24 jaar na Washington gestuur het. Die driejarige pandas word vir tien jaar aan die dieretuin geleen. Bao Li het sterk familiebande met Washington want sy ma, Bao Bao, is in 2013 in die dieretuin gebore en is vier jaar later na China teruggestuur. Sy grootouers, Meixiang en Tian Tian, het 23 jaar in die dieretuin gebly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….