Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, oorhandig vanaand musiektoerusting aan die Mitchells Plain Musiek-akademie tydens ‘n gala-dinee in Kaapstad. Dit is in samewerking met Betway Suid-Afrika. Die akademie, wat in 2014 gestig is, bied bekostigbare, gehalte en professionele lesse aan. Tydens die geleentheid sal die minister en Betway SA onder meer ook finansiële steun aan die akademie beloof om hulle in staat te stel om ‘n groter gemeenskapsbasis te dien met hulle musieklesse.
# KFC Suid-Afrika het 127-duisend-rand geskenk aan die Pretoria Sunrise-rotariërklub, wat hulle samewerkende pogings ‘n hupstoot gee om vroeë kinderjare-onderwys in Pretoria-Oos te verbeter. Die geld sal die Kungwini Early Childhood Learning Centre en die Sweet Angels Crèche steun, tot voordeel van omtrent 100 kinders. Die klub sê die steun sal hulle in staat stel om verbeterde sorg en vroeë leergeleenthede te bied, wat deurslaggewend is vir die ontwikkeling van die jong verstande wat hulle dien.
# Twintig leerders van die Talfalah Primary School in Manenberg op die Kaapse Vlakte neem in Desember deel aan die Internasionale Musiekfees in Thailand. Die marsjeerorkes, wat in 2018 gestig is, het reeds verskeie plaaslike kompetisies gewen. Talfalah is ‘n geen-fooieskool met leerders uit Philippi, Brown’s Farm en Gugulethu. Die afrigter, Layla Hendricks, sê hulle is opgewonde oor die geleentheid om die skool en Suid-Afrika te verteenwoordig.
# Die Universiteit van Pretoria het Tuning into the Universe bekendgestel, wat ‘n geïllustreerde boekie is vir kinders in graad vier tot ses. Die boekie gee aandag aan die brandende vrae wat kinders het oor die son, die maan en die sterre. Puleng Tsie van die universiteit sê die boekie toon Suid-Afrika se mega-teleskope, die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop en MeerKAT. Sy sê dit stel leerders ook bekend aan wetenskaplikes se verstommende navorsing en ontdekking oor die heelal. Tsie sê die volgende geslag mense wat met sterrekunde werk sal jong leerders wees.
# En ten slotte: Universal en DreamWorks Animation se fliek The Wild Robot, is bo-aan die internasionale loket, en het tot dusver meer as twee-miljard-rand laat inrol. Die rolprent is gegrond op die kinderboeke van Peter Brown en die ster-stemkunstenaars sluit in Lupita Nyong’o, Pedro Pascal, Kit Connor en Bill Nighy. Ander flieks wat tans die internasionale loket oorheers is Warner Brothers se Joker: Folie á Deux, met Joaquin Phoenix en Lady Gaga, Marvel/Disney se Deadpool & Wolverine, en Beetlejuice Beetlejuice.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….