Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Nasionale Rolprent-en-video-stigting het Old Righteous Blues gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig in die kategorie beste-internasionale-rolprent op die 97ste Oscar-toekennings. Die rolprent, geregisseer deur Muneera Sallies, vertel die verhaal van ‘n gemeenskap, verlossing en hoe om aan te beweeg ná konflik uit die verlede. Die stigting sê die keurkomitee van die Suid-Afrikaanse Akademie-toekennings het die besluit geneem ná ‘n uitgebreide beoordelingsproses. Die keurkomitee prys die rolprent se sterk storielyn en die talent van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.
# Die Addams Family-musiekblyspel met ‘n wêreldklas-rolverdeling kom in Desember Kaapstad toe. Dit sal te sien wees in die Home Coming-sentrum in Distrik Ses, wat voorheen bekend was as The Fugard. Dié blyspel van Andrew Lippa, Marshal Brickman en Rick Elice, is ʼn aandoenlike en humoristiese verhaal wat liefde, familie en die soeke na identiteit vier. Dit is 722 keer op Broadway opgevoer en het talle toekennings ingepalm. Addams Family Musical begin op 14 Desember.
# ʼn Senior dosent aan die Nelson Mandela Universiteit, doktor Adeniyi Ogunlaja, is gekies om aan die Toekomstige Professore-program deel te neem. Die program van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het ten doel om ʼn nuwe geslag professore te kweek wat toegewyd is aan navorsing, onderwys en gemeenskapsbetrokkenheid. Ogunlaja glo dit sal hom help om akademiese netwerke te bou, tussen-dissiplinêre uitruiling te hanteer en uitnemende onderrig te bevorder terwyl hy hulpbronne met besoekende geleerdes deel.
# Die Rocky Peak Spur in Alberton, Gauteng, bemagtig leerders met spesiale behoeftes van die Optim-Ed-leersentrum sodat hulle waardevolle werkservaring kan opdoen. Elke Vrydag kan leerders personeel by die restaurant dophou en sodoende noodsaaklike lewens- en werksvaardighede aanleer. Rocky Peak Spur het selfs spesiale uniforms laat maak sodat hulle deel van die span kan voel. Hierdie projek is ʼn toonbeeld van ware inklusiwiteit en bevestig hoe ondernemings die lewens van diegene met spesiale behoeftes positief kan beïnvloed.
# En ten slotte: Die sewe-malige Formule Een-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, is gekies as een van die glanspersoonlikheid-medevoorsitters vir volgende jaar se Met Gala in New York. Die ander mede-voorsitters is die sanger en liedjieskrywer Pharrell Williams, die bekroonde akteur Colman Domingo, die kletsrymer A$AP Rocky, en die ster van die Los Angeles Lakers, LeBron James. Die tema van die Met Gala op 5 Mei is Superfine: Tailoring Black Style, wat die Kostuuminstituut se vertoning vir lente 2025 vereer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….