Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van die Witwatersrand se Sentrum vir Dowestudies het ‘n baanbreker leerlingskap in rolprentvervaardiging vir dowe jeugdiges van stapel gestuur. Die internskap van ses maande is moontlik gemaak deur ‘n skenking van die Nasionale Lotery. Die sentrum sê hy beoog om 15 dowe jeugdiges met vaardighede toe te rus om die wêreld van rolprentvervaardiging te betree, insluitend die stappe van konsep na verhaal, teksaanpassing en videografie tot by redigering. Die internskap sal lei tot ‘n kortfilm wat in Maart volgende jaar op die sentrum se Rolprent- en Kunsfees vertoon sal word.
# Dit is Bloemfontein se beurt om die 28ste Afrika-digkunsfees aan te bied. Die fees word vanjaar in drie provinsies gehou. Dit het verlede week by die Universiteit van Johannesburg se Kuns- en Kultuursentrum begin, is tans in Bloemfontein en eindig Saterdag by Durban High School se Seabrooke-teater. Die talentvolle kunstenaar, musikant, skrywer en voordraer van gedigte Lefifi Tladi is die glans-kunstenaar saam met 72 digters uit 21 lande wat Angola, Italië en Amerika insluit.
# Ladles of Love gaan Wêrelddag vir Haweloses vier deur warm maaltye aan behoeftiges te verskaf. Die dag word jaarliks wêreldwyd op 10 Oktober gevier en dien as platform om goeie dade te vier, vordering te bepaal en hulle te beywer vir beter beleid en befondsing om haweloosheid te voorkom. Ladles of Love het sy Dignity Kitchen in Kaapstad heropen en sal ook in Johannesburg ‘n spesiale Dine with Dignity-ete hou om die dag te vier.
# Die “Matrix”-akteur, Keanu Reeves, het deelgeneem aan die Toyota GR-reeks, ʼn amateur-wedrenreeks vir motorgeesdriftiges en voornemende jaers, op die legendariese Indianapolis-renbaan. Reeves het eers 25ste geëindig uit ʼn veld van 33 jaers en later 24ste. Hy het in 2009 die Long Beach Toyota Grand Prix vir Glanspersoonlikhede gewen. Speed, waarin hy teenoor Sandra Bullock verskyn het, vier vandag sy 30ste verjaardag met ʼn spesiale vertoning in Los Angeles, met albei sterre wat dit sal bywoon.
# En ten slotte: ‘n Nederlandse museum het een van sy kunswerke teruggevind nadat ‘n personeellid dit per ongeluk weggegooi het. Die werk met die titel Al die goeie tye wat ons saam deurgebring het, van die Franse kunstenaar Alexandre Lavet, lyk met die eerste oogopslag soos twee ingeduikte bierblikke. Dit is egter met die hand geverf met akriel. Die kunswerk was in ‘n hysbank uitgestal, en ‘n werktuigkundige wat nie die kunswaarde daarvan besef het nie, het dit in ‘n vullishouer gegooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….