Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Oktober
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse bekendes Connie Ferguson, Bryan Habana, Proverb, Graeme Smith, Thobile Khumalo en Ntando Kunene ondersteun ‘Turn On The Subtitles’, ‘n globale veldtog om geletterdheid onder kinders te bevorder. TOTS word vandag in Suid-Afrika bekendgestel en moedig gesinne aan om subtitels op stromingsplatforms te aktiveer. TOTS sê agt uit tien kinders in Suid-Afrika kan op die ouderdom van tien nie met begrip lees nie en hierdie veldtog kan die land se geletterdheidskoers aansienlik verbeter.
# ‘n Nuwe biografie wat die storie vertel van die ontslape emeritus aartsbiskop Desmond Tutu se lewe is van Sondag af te sien op SABC 2. Die dokumentêr in vier dele met die titel The Arch bevat indiepte-onderhoude met familielede, onder wie sy dogter Thandeka Tutu-Gxashe en seun Trevor Tutu, asook mede-aktiviste en kollegas, wat aartsbiskop Thabo Makgoba en Cheryl Carolus insluit. Die uitvoerende hoof van Arena Holdings, Pule Molebeledi, sê die reeks beeld Tutu se onbaatsugtige en lewensbedreigende najaag van demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en grondliggende menseregte uit.
# Die Stad Kaapstad se Geleentheidspermitkantoor verwerk tans meer as 100 permitte vir vermaak- en sportbedrywighede dié maand. Oktober is volgepak met wêreldklas musiekoptredes, hoë-energie aksie in vrouerugby, opwindende plaaslike sokker, ‘n Wêreldatletiek-goedgekeurde marathon en talle feeste. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê daar sal aan veiligheidstandaarde voldoen word by al die byeenkomste wat dié maand aangebied word:
# Die wêreld se langverwagte Nintendo-museum het sy deure amptelik geopen in Uji, suid van Kioto in Japan. Die museum strek oor drie hoofgeboue en neem besoekers deur die maatskappy se geskiedenis van 135 jaar. Daar is ʼn uitstalling van skaars speelstange en prototipes, interaktiewe speletjies en ervarings, en ʼn burger-restaurant met ʼn tema. Die museum se hoofaantrekkingskrag is ʼn saal met byna al die produkte wat Nintendo al vrygestel het.
# En ten slotte: ‘n Australiese egpaar het die lang-verlore beeldmateriaal van hulle troue in Skotland teruggekry toe dit na 57 jaar per ongeluk gevind is. Aileen en Bill Turnbull het in 1967 in Aberdeen getrou. Hulle het die rolprent van die seremonie op ‘n geleende projektor gekyk wat hulle later teruggegee het sonder om te besef die film is steeds binne-in. Dit is ontdek toe ‘n ou film op DVD oorgeplaas is vir ‘n man in Aberdeen. Hy het ‘n foto daarvan op sosiale media geplaas waar die egpaar van Brisbane hulleself herken het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….