Goeie Nuus 14:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 10 November 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Professor Dire Tladi is vanaf Februarie vir ‘n termyn van nege jaar verkies tot regter van die Internasionale Geregshof in Den Haag. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat as regter in die hof sal dien. Tladi is tans ‘n internasionale regskenner aan die Universiteit van Pretoria en beklee die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel van die Inisiatief van die Nasionale Navorsingstigting in Internasionale Staatsreg. Hy is ook die voorsitter van Future Africa by Global Justice for Africa. Tladi was van 2012 tot verlede jaar ’n lid van die Verenigde Nasies se Internasionale Regskommissie.
# ‘n Professor aan die Universiteit van Kaapstad, Arnaud Malan, en sy span gebruik rekenaarmatige vloei-dinamika om Airbus te ondersteun in hul vliegtuigontwerp. Dit beskik oor wye toepassings en die potensiaal om die vervaardigingsbedryf in Suid-Afrika te laat groei en die lugvaartbedryf te ontkool. Indien passasiers op ‘n vliegtuig is wat deur Airbus gebou is, is die kanse goed dat die vliegtuig met sagteware van die Universiteit van Kaapstad ontwerp is. Die groep het gewerk aan rekenaarmatige vloei-dinamika en die toepassing daarvan in die lugvaartbedryf. Malan sê hulle gebruik toegepaste wiskunde en berekeningsmodellering om vliegtuigontwerp na te boots.
# Chirurge in New York het die wêreld se heel eerste volledige oogoorplanting uitgevoer. Aaron James, wat ‘n hoog-spanning elektriese ongeluk oorleef het, het in Mei vanjaar ‘n operasie van 21 uur ondergaan waartydens die helfte van sy gesig vervang is . Een van die voorste chirurge in die span, dokter Eduardo Rodriguez, het aan CNN gesê dit was ‘n uitdaging om die hele oog, die oogbal, sy bloedtoevoer én die kritieke oogsenuwee wat dit met die brein moet verbind, oor te plant:
Speel klankgreep: ENG RodriguezOnSurgery
# Die Australiese branderplankryer, Laura Enever, het amptelik ‘n nuwe Guinness-wêreldrekord opgestel vir die grootste inroei-brander wat nog ooit sonder hulp deur ‘n vrou aangedurf is. Sy het in Januarie ‘n brander van 13,3 meter in Hawaii op haar branderplank aangedurf. Enever se prestasie is gister tydens ‘n seremonie in Sydney bevestig. Die 31-jarige sê die brander was ‘n groot geskenk:
Speel klankgreep: ENG EneverOnRecordWave
# Die voormalige Daily Show-gasheer Trevor Noah het sy nuwe Spotify-aanlynuitsending genaamd What Now? with Trevor Noah bekendgestel met Dwayne “The Rock” Johnson as sy eerste gas. Die wydlopende onderhoud met Johnson dek alles, van die akteur se moeilike jeug en lewenslange stryd met depressie, tot waar hy gekritiseer word vir die bekendstelling van sy fonds ná die Maui-brande. Noah het die idee verwerp dat die uitsending gereed is om net nog ‘n uitlaatklep te wees vir bekendes op die A-lys, en gesê hy sal alle verskillende soorte gaste verwelkom, sommige aansienlik meer bekend as ander.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….