Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 8 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Afrikaans vier vandag honderd jaar as amptelike taal. Thomas Walters van die DA sê Afrikaans het oor die dekades ontwikkel in ’n taal wat die verskeidenheid van Suid-Afrika weerspieël, en is ’n taal wat mense verbind, verhale dra, en gemeenskappe vorm. Hy sê vandag is ’n geleentheid om hulde te bring aan al die digters, skrywers, opvoeders, kunstenaars en gewone Afrikaanssprekendes, en die verskeie Afrikaanse dialekte wat Afrikaans vorm en uitbou:
# Qatar Airways het aangekondig dat een van sy weeklikse vlugte vanaf Doha na Kaapstad vanaf 1 Junie met ‘n Boeing 777 sal wees, wat gratis ultra-vinnige Starlink wi-fi sal insluit. Die lugredery het reeds die wêreld se grootste vloot Starlink-toegeruste 777’s en is ook die eerste om die stelsel op Airbus A350’s aan te bring. Die redery vier sy teenwoordigheid van 20-jaar in Suid-Afrika en sê die stap verdiep sy streeksbande met sjef-werwing, Afrika-geregte en ‘n belegging in Airlink. Hy vlieg tans weekliks na 29 stede in Afrika.
# Die bekroonde Suid-Afrikaanse tromspeler en komponis Kesivan Naidoo en sy bekroonde ensemble, Kesivan and The Lights, doen Saterdag ‘n spesiale opname in die Baxter-konsertsaal in Kaapstad. Dit is deel van hul nasionale toer getiteld Freedom in Sound. Die toer eer Suid-Afrika se ryk jazz-erfenis om 30 jaar van demokrasie te vier. Kesivan and The Lights tree vandag op in die Untitled Basement in Braamfontein, Johannesburg, en môre in die Chris Seabrooke-musieksaal by Wits.
# Die Britse regering het ’n kortlys van vyf voorgestelde ontwerpe onthul vir die nasionale gedenkteken vir koningin Elizabeth. Dit sal die lewe herdenk van Brittanje se langsdienende monarg wat in September 2022 oorlede is en in Sint Jamespark in sentraal-Londen opgerig word. Drie van die vyf voorgestelde ontwerpe beeld die ontslape koningin op ’n perd uit, wat haar lewenslange liefde vir perdry weerspieël. Die wenontwerp sal later vanjaar gekies word, maar geen datum is nog vasgestel vir die onthulling van die voltooide gedenkteken nie.
# En ten slotte: Disney het planne aangekondig om sy eerste temapark in die Midde-Ooste op te rig. Die oord, wat op die Yas-eiland in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate sal wees, is ‘n samewerking tussen Disney en die plaaslike ontspannings- en vermaaklikheidsondernemimg, Miral. Disney het reeds ses temaparke in Noord-Amerika, Europa en Asië. Disney se uitvoerende hoof, Robert Iger, het die planne vir die nuwe park as ‘n opwindende oomblik vir die onderneming beskryf en sê Disneyland Abu Dhabi sal outentiek Disney en onteenseglik Emiraties wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….