Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 7 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Gautrein bied afslag op treinkaartjies om vervoer meer bekostigbaar te maak vir kwalifiserende passassiers. Die KlevaMova-veldtog wat pas bekendgestel is, bied 50-persent-afslag op ritte vir mense in huishoudings met ‘n gekombineerde jaarlikse huishoudelike inkomste van 350-duisend-rand of minder. Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê studente jonger as 25, leerders, pensioentrekkers en begunstigdes van Sassa se gestremdheidstoelae kan ook afslag ontvang:
# Die bekende fotograaf, kultuur-aktivis en geskiedkundige, Omar Badsha, het ‘n eredoktorsgraad in filosofie van die Universiteit van Fort Hare ontvang. Dit is uit erkenning vir sy buitengewone bydrae tot die kunste, sy sentrale rol in die anti-apartheidstryd en sy toewyding aan die behoud van Suid-Afrika se bevrydingsgeskiedenis. Sy aansienlike bydraes sluit in die stigting van die Afripix-fotografieversameling wat visuele storievertelling gebruik om die stryd van gewone Suid-Afrikaners tydens apartheid uit te beeld. Badsha het die Nasionale Orde van Ikhamanga in silwer in 2018 ontvang.
# Die Viewing Room-kunsgalery in Brooklyn, Pretoria, bied ‘n inspirerende groepsuitstalling aan wat die kreatiewe talente van drukkunsstudente en personeel van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Departement Beeldende en Ateljeekuns ten toon stel. Die uitstalling getiteld Setlhatliso beliggaam die kreatiewe rykdom en lewenskrag van die drukkunsproses. Setlhatliso is ‘n Setswana-woord wat verwys na ‘n indruk, ‘n tekening of ‘n beeld wat deur drukwerk geskep word. Die uitstalling duur van Saterdag tot 16 Junie.
# Portretskilderye van koning Charles en koningin Camilla is onthul nadat dit geskep is om hulle kroning in 2023 te gedenk. Die twee vollengte skilderye van die koningspaar is onderskeidelik deur die kunstenaars Peter Kufeld en Paul Benny geskep. Dit sal tot 5 Junie in die Nasionale Gallery te sien wees waarna dit na Buckingham-paleis se troonkamer verskuif sal word. Benny sê dit het twee jaar geneem om die portrette te skilder:
# En ten slotte: Londen is die derde agtereenvolgende jaar as die beste stad in Europa aangewys. Resonance Consultancy het drie belangrike faktore in ag geneem: leefbaarheid, geliefdheid en welvarendheid. Hy sê Londen se magnetiese aantrekkingskrag lok steeds ‘n wêreldwye gehoor, van studente en entrepreneurs tot toeriste en korporatiewe reuse. In die tweede plek is Parys, wat die verslag as ‘n bedwelmende stad beskryf. In die derde plek is Berlyn, wat spog met verdraagsaamheid, kulturele ambisie en gesogte talent. Barcelona en Rome sluit die top-vyf af.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….