Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 6 Mei 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die eerste Concorde supersoniese passasiersvliegtuig is in ’n geskiedkundige gedenkteken omskep. Die eerste van 20 vliegtuie wat gebou is, Concorde 001, wat in 1969 sy eerste toetsvlug onderneem het, word nou gehuisves in die Aeroscopia-museum buite Toulouse in Frankryk. Die Concorde is in 1976 kommersieel in diens geneem en het reisigers in net meer as drie uur vanaf Londen of Parys na die ooskus van Amerika vervoer. Die diens is in Oktober 2003 gestaak, drie jaar ná ’n ongeluk buite Parys waarin 113 mense gesterf het.
# Mej Wêreld Suid-Afrika, Zoalize van Rensburg, sê sy is opgewonde om die land op 31 Mei te verteenwoordig op die 72ste Mej Wêreld-kompetisie in Telangana, Indië. Altesaam 110 deelnemers van reg oor die wêreld sal deelneem. Die wenner sal deur verlede jaar se wenner, Krystyna Pyszková van die Tsjeggiese Republiek, gekroon word. Van Rensburg sê sy is nie net opgewonde oor die glans en mededinging nie, maar ook oor die kulturele wisselwerking, uitdagings en susterskap van die Mej Wêreld-ervaring.
# Die Universiteit van Pretoria het ‘n eredoktorsgraad in Handel toegeken aan die voormalige ouditeur-generaal Terence Nombembe vir sy bydraes tot rekeningkunde en die ouditberoep. Hy het van 2006 tot 2013 as ouditeur-generaal gedien. Nombembe sê hy is nederig om hierdie eer te ontvang, en het jong geoktrooieerde rekenmeesters aangemoedig om integriteit te hê:
# Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur vra benoemings vir die Nasionale Kuns- en Kultuurtoekennings. Dertig toekennings word in sewe kategorieë gedoen, insluitend visuele kunste en handwerk, letterkundige werke, en ontwerp en kreatiewe dienste. Minister Gayton McKenzie sê die toekennings speel ‘n belangrike rol in die kunsbedryf deur erkenning te gee aan uitnemendheid, moraal te verhoog, te inspireer, ‘n energieke nasie te skep en ‘n kultuur van vernuwing te bevorder. Benoemings sluit op 21 Mei.
# En ten slotte: Sterre het die trappe van die Metropolitan Museum in New York bestyg vir die grootste aand in die modewêreld, die Met Gala. Vanjaar se tema is Superfine: Tailoring Black Style. Sommige van die noemenswaardige glanspersoonlikhede was Rihanna, wat ‘n Marc Jacobs-uitrusting gedra het, Simone Biles in ‘n blou Harbison Studio-rok, ‘n erkenning van die uitwerking van indigo in swart kultuur, en Ayo Edebiri se uitrusting, geïnspireer deur Nigeriese kultuur. Die Gala se medevoorsitter, Pharrell Williams, sê sy inspirasie is swart mans van die werkersklas:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….