Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 25 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Pretoria wil met 3D-gedrukte vel ‘n omwenteling teweegbring in wondversorging in Suid-Afrika. Navorsers het spesiale stellasies geskep wat op elke wond pas en help dat brandwonde en swere vinniger herstel. Hierdie velvervanging verlaag die risiko van verwerping, verminder besmetting en kos minder. Pasiënte herstel vinniger en voel fisies en emosioneel beter. Die nuwe tegnologie sal na verwagting landwyd ʼn groot verskil maak in hospitale en mense se lewens.
# Die immergewilde Kaapstadse Internasionale Jazz-fees word van vandag die 22ste keer aangebied. Die fees skop af met ‘n gratis konsert op Groentemarkplein voor môre en Sondag se hoofoptredes in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum. Die kunstenaars wat gaan optree sluit in Ari Lennox, Black Coffee, die Igor Butman-kwartet, Thandiswa Mazwai en Incognito. Die geleentheid is gemik op die viering van plaaslike en internasionale talent wat die ryk verskeidenheid van die jazz-genre tentoonstel.
# ‘n Kaapstadse onderwyseres, Suzanne van der Merwe, het die agt-kilometer van Robbeneiland na Big Bay in drie-uur-26-minute geswem om geld in te samel vir studente in nood. Die onderwyseres van die Hoërskool Stellenberg se solo-swem is bedoel om leerders van die skool te help. Haar poging het die gemeenskap geïnspireer om tot onderwys vir minder bevoorregte studente by te dra. Van der Merwe het aan News24 gesê sy het die strawwe swemtog aangepak om Stellies Care te ondersteun waarmee die skool arm leerders bystaan.
# Toronto in Kanada is boaan Time Out se 15 beste reisbestemmings vir die Mei-vakansie. Die grootste aantrekkingskrag in Toronto is High Park, waar meer as twee-duisend kersiebome in ʼn kleurespel van wit en pienk blom. Hokkaido in Japan is tweede en bekend vir sy Matsumae-park, met 250 verskillende soorte kersiebloeisels. Derde is Athene in Griekeland om nou die antieke bouvalle te besoek voor die somer se ondraaglike hitte en groot skares. Memphis in Amerika en Utrecht in Nederland voltooi die top-vyf.
# En ten slotte: Die komediant, Nikki Glaser, bied volgende jaar die Golden Globes die tweede agtereenvolgende jaar aan. Die geleentheid wat die beste bydraes in rolprent en televisie vereer en bekend staan as Hollywood se partytjie van die jaar, vind op 11 Januarie in die Beverly Hilton plaas. Vanjaar se Golden Globes het sowat 9,3-miljoen kykers gelok wat effens minder is as die 9,4-miljoen verlede jaar. Glaser sê vanjaar se aanbieding van die toekennings was die grootste pret wat sy nóg in haar loopbaan beleef het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….