Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 24 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, lei vandag ‘n spesiale viering ter ere van Katrina Essau in Upington in die Noord-Kaap. Sy word wyd erken as ʼn lewende menslike skat en gerespekteerde figuur in die bewaring van die N|uu-taal en Khoi-San-kultuurerfenis. Die departement se woordvoerder, Stacey-Lee Khojane, sê die geleentheid sal hulde bring aan Essau se buitengewone pogings om haar moedertaal en Khoi-San-letterkunde en -kultuur te bewaar en te bevorder:
# Die Unisa Thabo Mbeki Afrika-skool vir Openbare en Internasionale Sake, in vennootskap met die Miriam Makeba-stigting, bied vandag die derde jaarlikse Miriam Makeba-gedenklesing op Unisa se hoofkampus in Tshwane aan. Die lesing gedenk 30 jaar sedert Suid-Afrika se politieke skikking van 1994, en sal die kunstenares en aktivis se nalatenskap vereer. Sprekers sluit Sipho “Hotstix” Mabuse en Ringo Madlingozi in.
# ‘n Oudstudent van die Rhodes-universiteit en tans ‘n meestersgraadstudent, Lazarus Kgageng, het sy debuutroman, The Chords of a Hymn, uitgegee. Die roman takel temas soos geslagsgeweld, die identiteit van ‘n homoseksuele man, ouerlike verwagtinge en oorlewing. Die boek is aanvaar en vir publikasie goedgekeur deur die 2024 Publish’d Afrika Magazine Adopt-An-Author-program. Kgageng sê The Chords of a Hymn is nie net ‘n roman nie, maar ‘n hulpmiddel vir genesing, ‘n stem vir die stemlose en ‘n bekragtiging van ervarings.
# Die 78ste Cannes-rolprentfees het nog flieks by vanjaar se amptelike lys gevoeg. Dit sluit in Die, My Love met Jennifer Lawrence en Robert Pattinson, The Chronology of Water van Kristen Stewart, en Honey Don’t! van Ethan Coen. Hollywood lewer ʼn groot bydrae en het bevestig dat Tom Cruise se Mission: Impossible — The Final Reckoning die eerste keer op die fees vertoon sal word, terwyl Spike Lee se Highest 2 Lowest met Denzel Washington in die hoofrol ook te sien sal wees. Die fees duur van 13 tot 24 Mei.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister het sy eerste geskikte pasmaat-stamsel gevind deur ‘n wêreldwye skenkerveldtog. Bradley Peters van die Verenigde Koninkryk was geskik vir ‘n pasiënt in Suid-Amerika nadat hy verlede jaar tydens ‘n bewusmakingsgeleentheid by die veldtog aangesluit het. Die oorplantings-oorlewende Robin Lewis en sy vrou het die veldtog genaamd Matches on the Map gestig. Die span het deur verskeie lande gereis om meer skenkers te werf. Die register sê meer inskrywings kan help om baie meer lewens te red.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….