Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 23 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Noordwes-Universiteit sê sy mediese skool wat eersdaags tot stand kom, sal die NWU Desmond Tutu Skool vir Geneeskunde heet. Die besluit is geneem in oorleg met die Aartsbiskop Desmond Tutu-trust vir intellektuele eiendom en is só goedgekeur. Die amptelike benoemingseremonie het gister plaasgevind waar die adjunk-minister van gesondheid, Joe Phaahla, teenwoordig was. Die rektor en vise-kanselier van die universiteit, professor Bismark Tyobeka, sê die skool sal ‘n belangrike rol speel om die toekoms van geneeskunde te vorm:
# ‘n BA-student aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, Anelisa Ngubane, moedig studente aan om ʼn geleentheid om in die buiteland te studeer, met ope arms en ʼn oop gemoed aan te gryp. Die 23-jarige student het onlangs ʼn semester by die Universiteit van Tours in Frankryk deurgebring. Ngubane se hoofvakke is Digitale Kuns en Frans, en sy sê die geleentheid het haar vaardigheid in Frans aansienlik verbeter. Sy sê die geleentheid het ook bygedra tot haar persoonlike en akademiese groei.
# Leerders met outisme in Suid-Afrikaanse skole met gebrekkige hulpbronne trek voordeel uit iSchoolAfrica se iPad-leerprogram vir gestremdes. Die program, wat by Via Nova School in Pretoria bekendgestel is, voorsien leerders van aanpasbare gereedskap wat kommunikasie en maatskaplike ontwikkeling ondersteun. Spesiale iPads en ondersteunende toepassings help leerders om hindernisse te oorkom sonder duur toestelle. Die program ondersteun tans 36 skole, insluitend die Dorothea Special School in die Wes-Kaap, wat erken word as ‘n Apple Distinguished School vir tegnologie-aanwending in spesiale onderwysbehoeftes.
# Die 64-jarige Tania Morkel het haar doelwit om 64-duisend-rand in te samel, bereik nadat sy 38 van 64 beplande klimtogte teen Tafelberg voltooi het. Die poging is ter ere van die Wildernis-soek-en-reddingspan wat haar lewe in 2023 gered het ná ʼn byna noodlottige val. Morkel sê haar vasberadenheid het sterk gebly ondanks terugslae soos siekte en persoonlike spanning. Sy beplan om voort te gaan met haar projek en is dankbaar vir die ondersteuning wat sy tot dusver ontvang het.
# En ten slotte: Dis vandag Wêreld-boekedag waarop boeke, skrywers, illustreerders en bowenal, lesers, wêreldwyd gevier word. Vanjaar se tema handel oor die verskeidenheid boeke vir elke smaak. Die Verenigde Nasies-agentskap UNESCO sê die tema beklemtoon hoe belangrik insluiting en verskeidenheid in lees is. Hy moedig lesers aan om verskillende stemme, standpunte en kulture deur letterkunde te ondersoek en deernis en globale begrip te bevorder. UNESCO sê lees is meer as ‘n tydverdryf, maar het die mag om menings te vorm, empatie te bevorder en welstand te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….