Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 15 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….
# Die wêreldberoemde Sterkfontein-grotte in die Wieg van die Mensdom-wêrelderfenisterrein in Gauteng heropen vandag vir die publiek. Dit is in Julie 2022 gesluit ná swaar reën en oorstromings kommer oor mense se veiligheid laat ontstaan het. Die terrein het belangrike mensagtige fossiele opgelewer, soos Mev Ples en Little Foot. Die grotte is ‘n dinamiese plek vir wetenskap, ontdekking en onderwys, en lok jaarliks meer as 80-duisend besoekers.
# Die gemeenskap van Ladysmith in KwaZulu-Natal het onlangs deelgeneem aan ‘n staptog ter ondersteuning van kinders wat teen kanker en lewensbedreigende siektes veg. Die geleentheid wat deur Ladysmith se Lions-klub aangebied is, het vyfduisend-rand vir die Kinderkankerstigting van Suid-Afrika ingesamel. Die organiseerders het hul hartlike dank uitgespreek teenoor almal wat bygedra het om die dag ʼn sukses te maak vir die klein vegtertjies en hul gesinne.
# ‘n Oudstudent van die Tshwane-universiteit vir Tegnologie, Mbuso Gamede, is besig om die plaaslike rolprentbedryf stormenderhand te verower. Sy fliek, Mfe2 dilo-dilo, wat as deel van sy nagraadse diploma vervaardig is, is vir die 56ste Durbanse Internasionale Rolprentfees gekies. Dit sal in Julie in die afdeling Beste Studentefliek debuteer. Gamede sê die fliek is ‘n geskiedkundige vertelling wat die daaglikse doen en late in ‘n koshuis in die 1990’s uitbeeld.
# Dis vandag Wêreld-kunsdag wat die ontwikkeling, verspreiding en genot van kuns bevorder en vier. Vanjaar se tema is “ʼn Tuin van Uitdrukking: Kweek gemeenskap deur kuns”. Dis vandag ook die verjaarsdag van een van die geskiedenis se beroemdste kunstenaars, Leonardo da Vinci, wat in 1452 gebore is. Die Verenigde Nasies-agentskap UNESCO sê kuns kweek kreatiwiteit, vernuwing en kulturele verskeidenheid, en speel ʼn belangrike rol om kennis te deel en nuuskierigheid en dialoog aan te moedig. Hy sê dat die krag van kuns mense bymekaar kan bring om te inspireer en te heel.
# En ten slotte: Die popster Katy Perry sê sy gaan ‘n liedjie skryf oor haar ervaring in die ruimte. Sy was gister deel van ‘n span vroue wat die ruimte besoek het aan boord van Jeff Bezos se Blue Origin-vuurpyl. Die ander was die joernalis Lauren Sánchez, die uitsaaier Gayle King, die vuurpylwetenskaplike Aisha Bowe, die burgerregte-aktivis Amanda Nguyen en die rolprentvervaardiger Kerianne Flynn. Terwyl hulle teruggekeer het, het Perry What a Wonderful World deur Louis Armstrong gesing. Sy sê dis ‘n belangrike liedjie: