Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 14 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Twee talentvolle argitektuurstudente aan die Universiteit van die Vrystaat, Jeanré Erasmus en Gustav Pretorius, het nasionale lof verwerf deur die gesogte Italiaanse Ontwerpersdag 2025-kompetisie te wen. Hul vernuwende uitstalruimte, geïnspireer deur ‘n dinamiese keramiekbeeldhouwerk van die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar Andile Dyalvane, The Dancer, het die beoordelaarspaneel bekoor om die top-eerbewyse te ontvang. Daar was 45 inskrywings vanaf 140 studente oral in Suid-Afrika. Erasmus en Pretorius glo die kompetisie het hul geloof in argitektuur as ‘n kragtige instrument vir storievertelling en menslike verhoudings versterk.
# Die Kgalema Motlanthe-stigting het ‘n digitale vaardigheidsprogram bekendgestel om die digitale gaping te oorbrug en die volgende geslag ontwikkelaars te bemagtig. Die projek fokus daarop om jong mense toe te rus met noodsaaklike digitale vaardighede, vernuwing aan te moedig en mense beter voor te berei vir indiensneming in die vinnig ontwikkelende digitale ekonomie. Gugu Motlanthe van die stigting sê hulle wil geleenthede vir die jeug skep om toegang tot opleiding en tegnologie te kry sodat niemand in die digitale era agtergelaat word nie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê benoemings vir 2025 se Nasionale Onderrigtoekennings is nou oop tot 16 Mei. Dit bied die provinsie die geleentheid om uitnemendheid in onderrig te vier en die uitmuntende werk te waardeer wat onderwysers elke jaar in openbare skole verrig. Maynier sê alle onderwysers, skoolbeheerliggame en distriksamptenare word genooi om benoemings by hul skoolhoofde of sentrumbestuurders in te dien:
# ʼn Uitstalling met die titel, A World for Women, by Women: Infinite Possibilities, is tans tot die vyfde van volgende maand by die Verenigde Nasies se hoofkantoor in die stad New York te sien. Die uitstalling beklemtoon die krag en veerkragtigheid van vroue en meisies wêreldwyd, en vertel hulle verhale van bemagtiging, vooruitgang en hervorming. Die VN sê digitale vernuwing, versterk deur kunsmatige intelligensie, wys die uitdaging wat vroue beleef en die grenslose geleenthede wat ontstaan wanneer regte, keuses en outonomie ondersteun word.
# En ten slotte: Die kindervriendelike rolprent A Minecraft Movie is in die tweede week na sy vrystelling steeds die wêreld se nommer-een-lokettreffer. Die rolprent met die akteurs Jack Black en Jason Momoa in die hoofrolle is reeds die grootste geldmaker van die jaar. Die geloofsgebaseerde gesinstekenprent van Angel Studios, King of Kings, is tweede, gevolg deur 20th Century en Disney se spioenasieriller, The Amateur, met Rami Malek in die hoofrol. A24 se Warfare is in die vierde plek met Universal en Blumhouse se gruwelrolprent, Drop, vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….