Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 11 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika vier fees nadat drie lughawens onder die bestes ter wêreld aangewys is op 2025 se Skytrax-toekennings. Die Kaapstadse Internasionale Lughawe het drie groot titels gewen: beste lughawe in Afrika, beste personeeldiens en skoonste lughawe. Die King Shaka Internasionale Lughawe is aangewys as die beste streekslughawe in Afrika, terwyl die InterContinental Hotel op die OR Tambo Internasionale Lughawe gekroon is as die beste lughawehotel in Afrika. ACSA se uitvoerende hoof, Mpumi Mpofu, sê die toekennings weerspieël hul voortdurende verbintenis tot wêreldklasdiens en passasierstevredenheid.
# Oud-hoofregter Raymond Zondo het ‘n eredoktorsgraad in die Regte van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang. Die graad word toegeken op grond van uitsonderlike prestasies en ander prestasies ingevolge die universiteit se ideale en beginsels. Regter Zondo het in sy aanvaardingstoespraak bemoedigende woorde vir die gegradueerdes en hul ouers gehad:
# Scarlett Johansson gaan voor en agter die kamera skitter op vanjaar se Cannes-rolprentfees. Die organiseerders het die rolprente bekend gemaak wat aan die Franse Riviera gaan meeding om pryse. Johansson speel saam met Benicio Del Toro en Tom Hanks in Wes Anderson se nuwe fliek, The Phoenician Scheme, wat ingeskryf is vir die gesogte Palme d’Or vir beste rolprent. Sy sal ook haar regisseursbuiging maak in Eleanor the Great. Dit handel oor ‘n ouer vrou wat die dood van haar beste vriendin probeer verwerk.
# Die Akademie vir Rolprentkuns en -wetenskap, wat die Oscars toeken, sal ‘n nuwe Waagtoertjie-kategorie bekendstel tydens 2028 se seremonie. Dit is die jongste kategorie wat by die Oscars gevoeg word sedert verlede jaar se Prestasie in Rolverdeling, wat volgende jaar sy eerste toekenning sal oorhandig. Die bestuurshoof van die akademie, Bill Kramer, sê waagtoertjies was nog altyd deel van rolprentvervaardiging, en daarom is dit gepas dat die werk van hierdie tegniese en kreatiewe kunstenaars vereer word.
# En ten slotte: Die Italiaanse modehuis Prada het aangekondig dat hy ‘n ooreenkoms bereik het met die Amerikaanse groep, Capri Holdings, om sy glansryke mededinger, Versace, vir 27-miljard-rand te koop. Die verkryging sal ‘n luukse groep skep met inkomste van meer as 129-miljard-rand wat beter kan meeding met nywerheidsreuse soos die Franse konglomerate LVMH en Gucci. Die voorsitter van die Prada-groep, Patrizio Bertelli, sê hulle is verheug om Versace te verwelkom en ‘n nuwe hoofstuk te bou vir ‘n handelsmerk met ‘n sterk verbintenis met kreatiwiteit, vakmanskap en tradisie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….