Goeie nuus 14:00
BULLETIN 8 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Warren Eva het geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaner te word om Annapurna in Nepal te bestyg, wat een van die gevaarlikste bergspitse in die wêreld is. Hy het die hoogte van agt-duisend-en-91-meter bereik en daarmee sy naam onder elite-bergklimmers verewig. Dit volg op sy geskiedkundige klimtog van die tweede hoogste berg in die wêreld, K2 in Asië, in 2022. Eva en sy mede-klimmer, John Black, het ondanks gevaarlike toestande tot op die spits voortgebeur en daarmee 57-duisend-rand vir die welsynsorganisasie Food 4 Hope ingesamel.
# FNB se top 40-beursverhandelde fonds is weer aangewys as die beste Suid-Afrikaanse aandelefonds in die kategorie: Algehele Beleggingsopbrengs oor tien jaar. Hy het die toekenning op die Suid-Afrikaanse Listed Tracker-toekennings ontvang. Die bank is ook bekroon as beste Buitelandse Aandelefonds in die kategorie: Aktief-bestuurde Sertifikaat vir Beleggingsopbrengs oor drie jaar. Daniel dos Passos van FNB sê om erkenning te kry vir die verskaffing van eersteklas beleggingsprodukte is werklik merkwaardig:
# Die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie gaan sy gewese adjunk-visekanselier, Anthony Staak, vereer met ‘n eredoktorsgraad in die Fakulteit Ingenieurswese en die Bou-omgewing. Die 69-jarige Staak het in 2018 afgetree nadat hy 37 jaar van sy loopbaan daaraan gewy het om hoër onderwys te bevorder. KSUT sê hy het toegesien dat duisende studente graad kry. Hy het jongmense aangemoedig om dit nie as die einde van hul onderwysreis te sien nie, maar eerder as ʼn mylpaal in ʼn leeftyd van toekomstige doelwitte en ambisies.
# Die Universiteit van Pretoria se kandidate het die derde agtereenvolgende jaar ʼn 100-persent-slaagsyfer in die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters se eerste beroepseksamen, die Aanvanklike Assessering van Bevoegdheid, behaal. Vyf van die 20 kandidate wat dié eksamen vanjaar met onderskeiding geslaag het, was van die UP. Professor Margaret Chitiga-Mabugu van die universiteit sê die uitslae bevestig die instelling se toewyding om geoktrooieerde rekenmeesters van die hoogste gehalte te lewer.
# En ten slotte: Die bekroonde Hollywood-akteur, Robert De Niro, sal volgende maand die ere- Palme d’Or-toekenning ontvang op die 78ste Cannes-rolprentfees. Ander akteurs wat hiermee vereer is, sluit in Meryl Streep en Jodie Foster. De Niro het ʼn lang geskiedenis met die fees. Hy was 14 jaar gelede voorsitter van die beoordelaarsjurie, en het op die rooitapyt gestap vir Martin Scorsese se fliek, Killers of the Flower Moon. Hy sê Cannes bring storievertellers, rolprentmakers, ondersteuners en vriende bymekaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….