Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 28 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# The Cafe at the Edge of the Woods deur Mikey Please het 2025 se Waterstones-prys vir kinderboeke gewen. Die boek is ‘n tydlose, grappige verhaal van ʼn kafee-eienaar en haar getroue kelner se pogings om ʼn besonder puntenerige klant te bedien. Die boek het ook in die kategorie vir geïllustreerde boeke gewen. Please se debuutroman, The Expanded Earth, is volgende week op die rakke. Carlos Sánchez se boek, The Tale of a Thousand Faces, het die jonglesers-kategorie gebuit terwyl Nathanael Lessore in die kategorie vir ouer lesers koning gekraai het met King of Nothing.
# Die nuweling Ella Langley lei vanjaar se 60ste Academy of Country-toekennings. Sy is benoem as Vroulike Kunstenaar van die Jaar en Nuwe Vroulike Kunstenaar van die Jaar, terwyl sy ses benoemings ontvang het vir haar liedjie saam met Riley Green, You Look Like You Love Me. Morgan Wallen, Lainey Wilson en Cody Johnson spog met sewe benoemings elk, en Chris Stapleton met ses. Die 16-malige wenner, Reba McEntire, bied die geleentheid op 8 Mei in Texas aan.
# Die Grammy-wenner Doja Cat sal die hoofkunstenaar wees op die Hey Neighbour-musiek- en leefstylfees wat in Augustus in Pretoria gaan plaasvind. Die fees sal ‘n tipe tuiskoms wees vir Doja Cat – die verhoognaam van Amala Ratna Zandile Dlamini. Sy is die dogter van die Suid-Afrikaanse akteur Dumisani Dlamini. Die fees se organiseerders sê Doja Cat se energie, kreatiwiteit en vermoë om met haar gehore aanklank te vind maak van haar die perfekte kunstenaar bo-aan die lys.
# Die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad het ‘n opwindende program vir die skoolvakansie saamgestel, insluitend merkwaardige uitstallings en poppeteater-opvoerings. Kinders kan die uitstalling van die gewilde harlekynvis, oftewel die anemoonvis – besoek of tyd bestee in die Diversiteitsgallery om die uiters sku gewone seekat te probeer raaksien. Daar is ook geleentheid vir tot twee mense om saam met een van die pikkewyn-versorgers ‘n opwindende en prettige ontmoeting van aangesig tot aangesig met hulle te hê. Die skoolvakansieprogram duur tot 7 April.
# En ten slotte: Die landbou-organisasie TLU SA nooi alle jong boere om vir 2025 se Jongboer van die Jaar-kompetisie in te skryf waarin die land se toegewyde en vooruitstrewendste boere om wonderlike pryse meeding. ‘n Varkboer van Bela-Bela in Limpopo, Wian Süllwald, was verlede jaar se wenner. Bennie van Zyl van TLU SA sê deelnemers sal beoordeel word volgens hul finansiële en risikobestuur, infrastruktuur, meganisasie en tegnologie, produksiepraktyke en hul gemeenskapsbetrokkenheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….