Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 November 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Sentrum vir Entrepreneurskap-ontwikkeling was een van die wenners van die nasionale presidensiële toekennings vir klein-, medium- en mikro-ondernemings en koöperasies. Hy het die ministeriële toekenning ontvang as Vernuwende Oplossing vir Kleinsakeondernemings. Die sentrum het meer as 750 klein- en medium-sakeondernemings ondersteun. ʼn Woordvoerder van die universiteit, Patrick Ebewo, sê die sentrum bevorder ekonomiese deelname en insluiting van vroue, die jeug en mense met gestremdheid deur toegang tot entrepreneursonderrig, sakeontwikkeling en ondersteuning.
# Die Stad Tshwane en die Universiteit van Pretoria wil die gaping tussen akademie en openbare beleid oorbrug om oplossings vir sommige van die stad se grootste probleme te vind. Burgemeester Cilliers Brink sê hulle wil saam met die universiteit werk en hulle intellektuele hulpbronne gebruik om dwingende kwessies op te los. Dit sluit in die skoonmaak van strate, hoe om sonder opvulterreine reg te kom en om die proses te vereenvoudig om behuising vir mense in die metro te vind en te voorsien.
# Die Stad Kaapstad se Energie-opleidingsentrum in Brackenfell het die nuwe groep Eksterne Ambagslui in Opleiding verwelkom. Sowat 50 vakleerlinge het reeds vanjaar hul kwalifikasies ontvang, en teen die einde van die jaar sal meer as 269 vakleerlinge in verskeie stadiums van die ambags-opleidingsprogram wees. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Beverley van Reenen, sê die interne ambagslui in opleiding word tans opgelei om aan stadsinfrastruktuur te werk:
# Fund-nation maak gereed om organisasies te help om fondse in te samel op Giving Tuesday-fondsinsamelinsdag volgende week. Die dag dien as ‘n geleentheid om filantropie te bevorder en vrygewigheid op ‘n wêreldwye skaal te vier. Deur gebruik te maak van digitale tegnologie en stelsels, help Fund-nation organisasies om doeltreffende skenkingsveldtogte te voer op dié wêreldwye gee-dag. Fund-nation moedig organisasies aan wat hul liefdadigheidsverdienste wil diversifiseer om aan die inisiatief deel te neem, met sy skenkings van meer as 200-miljoen-rand vir verskeie projekte.
# En laastens: Die ambassadeur van die Suid-Afrikaanse beenmurg-register, Christine Roos, het die uitmergelende 33 kilometer oor Valsbaai afgelê wat ook die Everest van Kaapse swemgeleenthede genoem word. Sy het gister die ysige water tussen Millers Point en Rooi Els aangedurf en deur geniepsige jellievisse, uitputting en pyn geworstel om die swemtog te voltooi. Roos het dit gedoen om minstens 50-duisend-rand in te samel vir die register se pasiënte-hulpprogram. Sy sê dit was niks in vergelyking met pasiënte en hulle gesinne se stryd om ʼn geskikte skenker te kry sodat ʼn lewensbedreigende bloedsiekte behandel kan word nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….