Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 17 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Amerikaanse ruimtevaarders Butch Wilmore en Suni Williams keer môre terug aarde toe nadat hulle vir nege maande op die Internasionale ruimtestasie gestrand was. Hulle sou aanvanklik net vir agt dae in die ruimte wees, maar is sedert Junie verlede jaar gestrand toe hulle Boeing Starliner-ruimtetuig aandrywingsprobleme ondervind het en die voertuig ongeskik verklaar is om hulle na die aarde terug te bring. Wilmore en Williams sal saam met ‘n Amerikaanse en ‘n Russiese ruimtevaarder met die SpaceX Crew Dragon terugkeer wat gister by die ruimtestasie aangekom het.
# TIME het die sewende jaar sy lys bekendgemaak van die wêreld se beste plekke om te besoek. Dit sluit alles in van vakansieoorde en seevaarte tot museums, restaurante en nasionale parke. In Suid-Afrika het The Manor in Johannesburg en die Few and Far Luvhondo Hotel in Limpopo die lys gehaal. Ander plekke op 2025 se lys sluit in die pas-herstelde Notre Dame-katedraal in Parys, die NamibRand-natuurreservaat in Namibië, Nintendo se heel eerste museum in Japan en Denemarke se nuwe Tiny Seaside-oorde, Loddenhøj en Skarrev
# Die Universiteit van Fort Hare se verteenwoordigende studenteraad het sy Een Maaltyd per Dag-veldtog amptelik bekendgestel. Die self-befondsde program wil arm voor- en nagraadse studente help deur elke dag ‘n gesonde maaltyd te verskaf. Die projek word in drie fases bedryf: tuinmaak, voedselbank en om een maaltyd per dag voor te berei. Die visekanselier, Sakhela Buhlungu, sê hulle bou ʼn nuwe kultuur van gee, eerder as om altyd net te ontvang.
# Die Thrift for Good-mark in Kaapstad sal volhoubare inkopies ondersteun om plaaslike liefdadigheidsorganisasies by te staan. Klante kan goeie tweedehandse klere, bykomstighede en skoene koop, ten bate van die Heilsleër, U-Turn en Help the Rural Child. Die markorganiseerders moedig skenkings aan van tweedehandse goedere van goeie gehalte. Hierdie geleentheid bevorder die sirkulêre ekonomie en hef kwesbare gemeenskappe op. Die geleentheid vind van 28 tot 30 Maart, van 9-uur die oggend tot 5-uur namiddag, by die Blue Route-inkopiesentrum plaas
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad se Biblioteek- en -Inligtingsdiens moedig alle inwoners aan om die 40-duisend-112 laat biblioteekitems in te handig sonder dat boetes gehef sal word. Suid-Afrika se Nasionale Biblioteekweek word van vandag tot Sondag gehou, waartydens inwoners die rol van biblioteke in gemeenskappe vier. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê die vermiste items, met ‘n waarde van meer as 4,6-milljoen-rand, sluit broodnodige kinderboeke en studiegidse in:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….