Goeie nuus 14:00
BULLETIN 12 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaans-gebore Hollywood-aktrise en vervaardiger, Charlize Theron, sal van vandag tot Saterdag gevier word tydens die Galileo-opelugfliek se vertonings in Kirstenbosch in Kaapstad. Theron se uiteenlopende rolle en besondere talent word gevier met haar flieks Long Shot, Mad Max: Fury Road, Kubo and The Two Strings en The Italian Job. Kaartjies is beskikbaar van 145-rand per persoon terwyl studente en pensioentrekkers 25-rand afslag kry.
# ‘n Projek van Edutech, die iSchoolAfrica Onderwystrust, het ‘n Zero-projektoekenning vir sy Dowe Ontwikkelaarsprogram verower. Die program, wat erkenning gekry het saam met 77 wêreldwye inklusiewe oplossings vir gestremdes van 45 lande, het agt dowe jeugdiges opgelei om iOS-toepassings-ontwikkelaars te word. Die iSchoolAfrica-span het die program ontwerp om werkloosheid onder gestremde jeugdiges in Suid-Afrika te verminder. Die direkteur van iSchoolAfrica, Michelle Lissoos, sê hulle werk steeds daaraan om ‘n wêreld te skep sonder hindernisse vir gestremdes.
# Die Universiteit van Pretoria se museums bied ‘n nuwe prikkelende uitstalling aan wat ‘n keur van tekstiele van oral in die wêreld byeenbring. Bokgabo ba mašela: The Art of Textiles is gemik op tekstiel as ‘n kunsvorm terwyl die kragtige lewensverhale van vroue erkenning kry in elke geweefde stuk. Die kurator van die uitstalling, Uthando Baduza, sê van die 12de eeuse Mapungubwe tot die gesogte modes van die ikoniese Suid-Afrikaanse ontwerper Marianne Fassler vertoon die tekstiele veerkragtigheid, kultuur en identiteit.
# Gift of the Givers het kospakkies oorhandig aan 66 bejaarde inwoners by Mothwa Haven Dreamview in Gauteng. Dit bevat mieliemeel, ‘n botterskorsie, speserye, skoonmaakmiddels en lekkers, en bied verligting aan mense wat sukkel om met beperkte toelaes deur te kom. Die tehuis bied ‘n onafhanklike leefstyl met weeklikse mediese ondersoeke, maar baie inwoners sukkel met daaglikse uitgawes. Die skenking is bedoel om hul las te verlig en seker te maak hulle oorleef onder moeilike omstandighede.
# En ten slotte: Wetenskaplikes sê hulle het die eerste beeldmateriaal opgeneem wat toon dat eenhoringvisse hulle horings gebruik om nie net vis aan te val en te manipuleer wanneer hulle vreet nie, maar ook op ‘n spelerige manier. Die eenhoringvis was nog altyd ‘n enigma. Sy horing groei tot drie meter lank en word klaarblyklik vir meer as net hofmaking en jag gebruik. Navorsers het 17 duidelik verskillende gedragspatrone geïdentifiseer wat ‘n wye verskeidenheid van interaksies en dinamika tussen eenhoringvisse en ander vis onthul.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….